Ek loop saam met ander in my eie skoene
- Stephan Joubert
- 2 hours ago
- 1 min read
Ek het dikwels gehoor ek weet nie wat is dit om swaar te kry nie, totdat ek ‘n myl in iemand anders se skoene geloop het. Toe probeer ek dit. Maar toe hoor ek dit help nie veel as ek na een myl daardie skoene uittrek en weer my eie aantrek nie. Toe probeer ek ‘n tweede myl, maar dit was steeds nie ver genoeg nie. Ek besef toe ek kan nie regtig in ander mense se skoene loop nie. Die Here het my ook nie geroep om dit te doen nie. Hy het my wel geroep om vir ander mense in my eie skoene daar te wees. Van toe af meld ek in my eie mondering aan. Ek doen dit soos wat die Here my aanmekaargeweef het.
Ek kan dalk nie ander mense se omstandighede ten volle verstaan nie, maar ek kan wel vir hulle na die beste van my eie vermoëns daar wees. Ek kan nie alles vir almal wees nie, maar ek kan my eie lewe diensbaar maak met daardie paar talente en vermoëns wat die Here aan my toevertrou het. Ek kan die lewe saam met ander mense loop, soos wat die Here my toegerus het om dit te doen. Anders gesê, in my eie skoene kan ek ’n myl of twee saam met ander mense en langs ander mense loop. Nee wag, ek moet! Dan loop ek die lewe reg, soos wat die Here vra.
Comments