top of page

Ek leef nou al in Jesus se hemelse ateljee

  • Stephan Joubert
  • Apr 13
  • 2 min read

Ek is deur Jesus genooi om binne Sy verhaal te leef. Nee, dis nie andersom, soos wat sommiges dink nie. Ek nooi nie vir Jesus in my storie in nie. Hy nooi my in Syne in. Hy maak my deel van sy lewe. Nooit vergoddelik ek my eie storie nie. Nooit leef en skryf ek glansryke outobiografieë oor my suksesse en prestasies nie. Jesus se opofferende lewe is my voorbeeld, my padkaart, my bladmusiek en my lewensteks. Ek lees en leef Sy verhaal. Ek maak dit my eie. Binne die evangelies vind ek my nuwe identiteit en my padwysers.


Jesus nooi ons almal vandag na Sy kunsateljee toe om ons lewenstories tot hier weer te besoek en om dit anders te verstaan en in te kleur. By Jesus leer ons aanhoudend hoe om Sy hemelse verfkwas te gebruik. By Hom leer ons hoe om die regte genadekleure op ons verfpalet te meng en hoe om dit op outentieke maniere in ons eie lewe te gebruik sodat al die fokus op Hom en op ander mense sal val. 


Ons gebruik graag die helder verfkleure van Jesus se liefde en vreugde. Ons gebruik die verfkleure van medelye om mense rondom ons se nood se konkreet aan te spreek en uit die pad te verf. Terselfdertyd gebruik ons Jesus se brugbouende liefde as ons vernaamste verfkwas, wanneer ons  tussen strydendes en bakleiendes is. Dan beskilder ons sulke omgewings graag met sagte woorde wat woede laat bedaar en vergifnis laat wen. Nooit hou ons op om Jesus se nuwe narratief na te leef nie. Nooit hou ons op om Sy nuwe verfkleure te gebruik om die wêreld rondom ons anders te skilder nie. Ons leef immers nou reeds in Jesus se hemelse ateljee hier op aarde.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page