Dit was Vrydag … maar toe was dit Sondag!
- Stephan Joubert
- 6 hours ago
- 1 min read
Dit was Vrydag … toe Jesus wreed vasgekap is aan ’n houtkruis net buitekant Jerusalem. MAAR toe breek Sondag aan wat getuig van ’n leë graf.
Dit was Vrydag … toe Jesus aan die kruis van Golgota uitgeroep het: “My God! My God, waarom laat U my nou in die steek?” (Markus 15:36). MAAR toe breek Sondag aan toe Jesus by die hekke van die doderyk uit die pad gestap het.
Dit was Vrydag … toe Jesus uiteindelik die stryd verloor het. Sy liggaam het geknak onder die gewig van sonde en vervloeking wat Hy daar aan die kruis namens ons almal moes dra. Al wat nog oorgebly het was Sy woorde: “My Vader, Ek vertrou my gees aan U toe.” (Lukas 23:46). Toe was sy asem op. Hy het gesterf. MAAR toe breek Sondag aan. Toe het die engel die boodskap oorgedra: “Hy is nie hier nie. Hy het opgestaan!”
Sondag het gebeur … Opstanding-Sondag; Leë-Graf-Sondag. Dit is nie net die kruis wat kaal is nie - Jesus se graf is ook leeg. Daarom groet ons saam met die kerk van die eeue mekaar met die Griekse woorde: “Christos anestē …” “Christus het opgestaan!” Hy is nou ons hoop. Hy is ons lewe. Skep daarom moed: Sondag het gebeur, Opstanding-Sondag! Ons Heer is uit die graf. Hy leef tot in alle ewigheid. Ons leef saam met Hom!




Comments