Dink mooi wat jy sê
In 1956 het John Bardeen die Nobelprys in fisika gewen. Tydens die oorhandigingfunksie was Gustav VI, die Sweedse koning, teleurgesteld dat Bardeen nie al sy kinders saamgebring het vir hierdie spoggeleentheid nie. “My twee seuns skryf tans eksamen en ek wou hulle nie ontwrig nie,” was Bardeen se antwoord. Maar toe sê hy tong in die kies hy sal hulle saambring as hy weer die Nobelprys wen. Toe gebeur dit inderdaad in 1972. Al sy kinders was toe by die oorhandigingsgeleentheid.
Daar is ’n ou spreekwoord wat lui: “’n Mens moet nooit sê: fonteintjie ek sal nooit weer van jou drink nie.” Vra gerus vir Simeï in 2 Samuel 16. Toe hy gehoor het dat Dawid uit Jerusalem voor Absalom wegvlug, het hy agter hom aangeloop en hom gevloek. Ook het hy Dawid en sy manskappe met klippe bestook. Hy het geglo Dawid wou Saul se nageslag uitroei; daarom kry Dawid nou sy verdiende loon.
Maar toe draai die gety. Dawid het later na Jerusalem teruggekeer. Toe moes Simeï sy woorde blitsvinnig sluk. In 2 Samuel 19 het hy in die stof voor Dawid neergeval en om vergifnis gesmeek. Dawid se soldate wou Simeï daar en dan doodmaak, maar Dawid was hom genadig.
Dit laat my opnuut besef ons moet mooi dink wat ons vir ander mense sê. Ons woorde kan ons inhaal op goeie maniere (soos met Bardeen), maar ook op slegte maniere (soos met Simeï). Ons moet bid dat die Here daardie hemelse wag voor ons mond voltyds aan diens sal hou. Ek bedoel daardie goeie wag waarna Psalm 141:3 verwys.




Comments