top of page

Diensbaar vir God: hoekom en hoe

  • Alet Gardner
  • 2 days ago
  • 2 min read

Johan W se laaste wens was dat sy getuienis iemand anders sal aanmoedig om Jesus as Verlosser aan te neem. ‘n Predikantvriend van ons het die jongman weekliks in “death row” in die sentrale gevangenis in Pretoria besoek en onder andere toekomsbeplanning met hom gedoen. Die gevolg was dat Johan sy getuienis uitgeskryf het en dié het in die hande van ‘n onbekende man (buite die tronk) beland, wat daar en dan besluit het om sy hart vir die Here te gee. 


‘n Sondagskoolonderwyser, Edward Kimbal, het, toe ‘n jong Dwight Moody deur sy maters uitgelag is omdat hy nie geweet het waar in die Bybel Johannes 3:16 te vinde is nie, ewe rustig sy eie oopgemaakte Bybel vir die seun aangegee. Hy het kontak met Moody behou en later die jong skoenverkoopsman, waar hy agter in die winkel besig was, na die Here toe gelei. Daarna het die Here die welsprekende Moody gebruik om die boodskap van verlossing aan baie ander te verkondig. 


Byna ‘n eeu later het ‘n plaaswerker, Albert McMakin, kort na sy bekering vol entoesiasme oor hierdie wonderlike belewenis, ‘n paar van sy jong vriende na ‘n herlewingsdiens saamgesleep. Hier het die 16-jarige Billy Graham sy hart vir die Here gegee. McMakin het nooit kon dink dat sy uitreik na ‘n paar vriende daartoe sou lei dat die boodskap van nuwe lewe in Christus na miljoene mense dekades daarna deur Billy Graham se bediening uitgedra sou word nie. 


Soos wat Paulus in 1 Korintiërs 15:10 sê, kan ekself ook getuig dat ek vandag is wat ek is deur God se onverdiende goedheid. So kan ekself ook goed doen as die geleentheid hom voordoen en weet dat my werk ewigheidswaarde sal hê.  Die heel beste wat ek vir iemand anders kan doen, is om hom of haar aan Jesus voor te stel. Die Here het deur Sy Gees vir my en jou met sekere gawes toegerus. Dus kan ek, hoe nederig my posisie in die samelewing ook al is, ‘n rol speel om iemand anders aan Jesus voor te stel. Wie weet, daardie persoon is dalk ‘n tweede Moody of ‘n Moeder Teresa! 


Ek mag voel dat ek nie bekwaam is nie, maar die Here kan my gebruik om ‘n belangrike skakel in Sy werk te wees, solank ek net bereid en beskikbaar is om my klein deel te doen. So kan my werk ook ewigheidswaarde hê!


Comments


bottom of page