top of page

Dankbaarheid met Kersfees: Onthou God se Getrouheid

  • Elmarie van der Westhuizen
  • 12 minutes ago
  • 2 min read
“Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër. Ek wil nadink oor al u werk, en oor al u dade peins. (Psalm 77:12,13)

Terwyl die Kerstyd naderkom, begin my gedagtes onvermydelik fokus op geskenke, familiekuiers, kosvoorbereiding en vakansie. Tussen al die inkopielyste, gejaag om alles gekoop en voor Kersdag gedoen te kry, is dit soms moeilik om tyd in te ruim om voor God stil te word. Stil en rustig te raak en in dankbaarheid aan die afgelope jaar terug te dink. Te reflekteer en te onthou hoe God my bygestaan en gedra het.


Elkeen van ons het vreugdevolle oomblikke beleef, asook uitdagings, oomblikke van onsekerheid en miskien selfs verlies. Tog het God se hand ons deur dit alles stilweg gelei, krag gegee toe ons swak was asook vertroosting en hoop. Kersfees herinner ons daaraan dat Emmanuel – God met ons – nie net 'n storie van lank gelede is nie, maar 'n belofte,wat elke dag nog waar is.


Charles Dickens het hierdie gees van refleksie en dankbaarheid pragtig vasgevang in sy boek, A Christmas Carol. In die boek word die hoofkarakter, Scrooge, besoek deur 'n reeks spoke, beginnende met dié van sy ou sakevennoot, Jacob Marley. A Christmas Carol begin op ’n somber, koue Kersaand in Londen, sewe jaar na die dood van Ebenezer Scrooge se sakevennoot. Scrooge, ’n suinige, verouderende vrek, hou nie van Kersfees nie en sy verhoudings met die mense om hom is swak. Die drie spoke wys vir Scrooge hoe sy gemene gedrag gedurende sy lewe diegene rondom hom beïnvloed het. Aan die einde van die storie is hy verlig om te ontdek dat daar nog tyd vir hom is om voor sy dood te verander. Scrooge het begin as 'n man verhard deur gierigheid en bitterheid, blind vir die seëninge rondom hom. Maar toe sy oë oopgegaan het, toe hy die waarde van liefde, vrygewigheid en genade gesien het – is sy hart verander.


Op dieselfde manier, wanneer ek oor God se goedheid nadink, word my hart verander. Dankbaarheid maak my ​​oë vir Sy getrouheid oop, nie net in die goeie dae nie, maar in die dae waar Hy my eenvoudig gehelp het om deur te  druk.


Mag ons hierdie Kersfees soos Scrooge op daardie Kersoggend wees – dankbaar vir Sy liefde en die mense, wat Hy in ons lewens geplaas het, en gretig om Sy liefde met ander te deel. Kom ons wees nie net dankbaar vir wat ons het nie, maar vir Hom, wat ons bewaar het: 'n Getroue God wie se genade nooit opraak nie. Dan herfokus ek op wat belangrik is en waaroor die feesgety werklik gaan, sê ek dankie sê vir al die genade en seëninge in my lewe.


Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page