• deur Liezel Lüneburg

COVID-19: Jesus Christus het ook angs gevoel


Vanoggend voel my arms lam. My brein kan nie lekker dink nie en dit voel of ek nie diep kan asem haal nie.


En ek besef dat dit angs is wat my so laat voel.


President Ramaphosa het Maandagaand die “lock down” aangekondig en die aantal Corona-gevalle het in 24 uur met 46% gestyg. Ek lees dat 402 mense nou die siekte onder lede het, maar my verstand maan dat dit nie die ware syfer is nie. Hoeveel mense loop rond wat positief is, maar nog nie getoets is nie, of die uitslae is net nog nie bekend nie. Hoeveel is reeds deur die 402 aangesteek? Die syfer kan net sowel tien of meer dae “agter” wees.


Gaan die virus aan ons deur ook kom klop? En wat moet ek vanoggend met hierdie knaende angstigheid maak?


Antwoorde sal daar altyd wees en ek kom op ʼn gedeelte af wat ek ʼn paar jaar terug geskryf het:


Jesus het na die laaste Nagmaal saam met sy dissipels die stad verlaat en na die Olyfberg gegaan om te bid. Daar aangekom het Hy hulle agtergelos en net vir Petrus, Johannes en Jakobus verder saamgeneem.


Afgesonderd in die tuin van Getsemane het Hy doodsbenoud gekniel en met sy gesig teen die grond tranerig gesmeek: “Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.”


En met die angssweet wat op die grond bloed korrel, het Hy verder gehyg: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Die “Ek” met ’n hoofletter. Want Hy was en is mos self God. Steeds het Hy Hom by die Vader se wil berus, ten spyte van die moontlikhede wat sy Godheid bied. Hy is immers die Woord en die Woord het die hele skepping tot stand gebring. Nog twee male herhaal Hy die gebed. Smeek en wroeg in vrees en angs. Die lug is stil met net die insek-gedruis hoorbaar in die nag. Geen teken van ’n miljoen engel-vlerke in die soel naglug nie.


En ek wonder elke slag as ek die verhaal met spanning lees. Oor waar die Vader was. Die legioen engele tot sy beskikking. Het Jesus die vertroostende hand gevoel? Of moes Hy in eensaamheid pleit en soebat en in spanning wag op ’n antwoord wat steeds ontwyk. Waarom kon die drie nie net wakker bly nie? Of was dit dalk nodig dat die verlatenheid so intens oor Hom toesak? Was dit deel van my straf wat Hy moes dra? Ook toe Hy later, net voor die laaste asem, uitskree: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” En die hopeloosste vraag van almal: As die Vader nie eens sy eie Seun se gebed verhoor nadat Hy drie maal gesmeek het nie, hoe sal Hy ooit my gebede verhoor? Ek is sondig en onrein en maar net ’n mens.


Eers veel later in my lewe vind ek die antwoord. In Hebreërs 5, en wel in die Nuwe Lewende Vertaling: “Terwyl Jesus hier op aarde was, het Hy hard uitgeroep en met trane by God gesmeek en gepleit, want God sou Hom van die dood kon red. God het Hom verhoor deur die angs vir die dood van Hom weg te neem.


En nou verstaan ek skynbaar onverstaanbare dinge veel beter. Hoe Jesus so doodrustig vir Judas kon beveel: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!” Vreesloos teenoor die soldate en wagte kon erken: “Dit is Ek!” Steeds vir Petrus in liefde kon betig en leer: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?” Hoe Hy oënskynlik sonder verset van die een na die ander folteraar geneem is. Van Annas na Kajafas na die Joodse Raad na Pilatus na Herodes. En terug na Pilatus. Met die volk wat woedend aandring op sy kruisiging. Sonder om een maal sy saak te probeer verdedig of bevrees lam te raak en in verleentheid smekend vir sy lewe op die vloer te val.


Dan verstaan ek hoe Hy sonder vloek en skel die wag wat Hom soos ’n hond geklap het, kon antwoord: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?” En voor Pilatus kon getuig – helderdenkend en rustig: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”


Ek verstaan hoe hy so Goddelik sy lot aanvaar het, sonder woede en verleentheid. Die verraad deur een van die Twaalf. Petrus se pynlike ontkenning. Die arres en geseling. Die woedende, skreeuende gepeupel. En tussen die pyn en vernedering steeds die krag kon vind om sy martelaars en moordenaars te vergewe: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Selfs iemand saam met Hom na sy paradys kon neem.


If Christ spent an anguished night in prayer, if He burst out from the Cross, “My God, my God, why have you forsaken me?” then surely we are also permitted doubt. But we must move on. To choose doubt as a philosophy of life is akin to choosing immobility as a means of transportation.” (Yann Martel Life of Pi)

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: