top of page

Bly op die Jesus-pad

  • Roedolf Botha
  • Oct 7
  • 3 min read

Volharding is ‘n waarde en strewe wat baie opvallend is in die Nuwe Testament. Die vermoë om uit te hou en aan te hou, om dag in en dag uit vanuit geloof en die regte manier van dink op te tree tot die einde. Wanneer ek dink aan volharding in terme van die fliekwêreld, dink ek aan The Book of Eli. Eli, die hoofkarakter, leef in ‘n postapokaliptiese tyd na ‘n soort wêreldoorlog, wat die meeste van die lewe op aarde uitgewis het. Eli is egter op ‘n missie. Hy het een van die enigste oorblywende Bybels op aarde ontdek en hierdie boek het sy lewe verander. Na die oorlog is alles verwoes en mense het nie meer boeke, die Bybel ingesluit, geken nie. Hy het daarom ‘n roepingsbelewenis gehad wat hom oortuig het dat hy die boek na die Weste van die ou Amerika moes neem. Daar in die Weste, het hy geglo, het mense oorleef wat die boodskap van hierdie boek nodig het.


Een van die mees opvallende metafore van die fliek is dié van die pad. Daar is van die begin tot die einde van die fliek tonele wat die pad en Eli se reis op hierdie pad na die Weste baie mooi uitbeeld. Sy strategie om veilig in die Weste uit te kom, is om bloot op die pad te bly. Dis belangrik aangesien daar regdeur die fliek baie afleidings is, dinge wat gebeur, wat sy aandag weg van die pad af trek. Gereeld wanneer hy iets interessants teëkom of wanneer iemand hom van koers af wil dwing, dan sê hy saggies vir homself:


“Stay on te road. Just stay on the road.”

Eli is ‘n man van die pad. Die redding van die mense in die Weste is sy missie. Die pad is sy strategie. Bly op die pad. Moenie links of regs afwyk nie. Alhoewel beelde soos hierdie ook in Ou Testamenttekste, soos Spreuke 4:23-26, voorkom, is die ooreenkomste met Paulus nogal opmerklik:


  • Beide Paulus en Eli het ‘n baie sterk missie.

  • Beide is mense van die pad. Paulus self gebruik die idee van stap en die pad baie. Geleerdes reken dat Paulus tussen 16 000 en 18 000 kilometer in sy leeftyd ter wille van die evangelie moes stap.

  • Beide se oog is op die Weste gerig. Paulus wou Rome toe en, met die hulp van die gemeente daar, Spanje toe, die mees Westelike punt van die bekende antieke wêreld.

  • Beide Paulus en Eli het oral waar hulle kom teenstand beleef. Eli se teenstander is ‘n tipe van godsdienstige persoon gespeel deur Gary Oldman. Dié persoon wil ook Eli se boek hê, maar vir sy eie redes. Hy wil die mense deur middel van die boodskap van die Bybel beheer en manipuleer. Dit herinner baie sterk aan die Joodse godsdienstiges wat konstant Paulus se teenstaanders was en mense teen hom opgestook het .

  • Eli bid Paulus se gebed wat kom uit 2 Timoteus 4, die gebed van vervulde volharding aan die einde van die fliek. Hy bid onder andere: “Lord, I’m so very tired. Thank you for allowing me to rest at last.” Daarna sterf hy. Dit herinner baie sterk aan Paulus se woorde in 2 Timoteus 4:6: “My lewe word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my sterwe is voor die deur."


Dit kos guts om te bly glo. Dit kos volharding en vasbyt om enduit gelowig te leef. En vir sommige mens is die versoeking natuurlik om geheel en al moed op te gee met hulle geloof en Jesus self prys te gee. Almal van ons moet vasberade bly op die pad van Jesus waarop begin is. ‘n Mens kan so maklik verveeld raak, gewoond raak, afgelei word. Soms raak ons so gewoond aan die boodskap van die evangelie dat ons nie besef ons word afgelei van die pad af nie. Dit gebeur wanneer ons nie liefdevol optree teenoor ons nie-gelowige buurman, of die petroljoggie by die vulstasie ignoreer, of ons lewensmaat met disrespek hanteer. Vir almal van ons eggo die woorde van Eli deur die bladsye van die Nuwe Testament:


“Stay on the road. Just stay on the road.”

Comments


bottom of page