• ekerk

Benodig: ‘n ballingskapsteologie

deur Roedolf Botha

Ballingskap is om te wees waar jy nie wil wees nie, so praat teoloog Eugene Peterson. Indien hierdie definisie waar is dan is ons almal tans in ballingskap. Ons almal se ganse wêrelde het geskuif. Wanneer dit gebeur dan moet enige persoon hoop dat hy/sy die innerlike kapasiteit het om hierdie veranderinge die hoof te kan bied en gesond aan die ander kant uit te kom. Die belangrikste is egter nie wat ons uiterlik doen om alles te probeer regmaak nie, maar veel eerder hoe ons alles innerlik verwerk.


Nie almal hanteer hierdie Corona-ballingskap waarin ons onsself bevind, ewe goed nie. Sommige beter as ander en dit het alles te make met die innerlike teologie waaroor ons beskik. Elke mens het ‘n teologie. Teologie is eenvoudig hoe ‘n bepaalde mens oor God dink. Mense wie se teologie en verstaan van die lewe en God gevorm is in mooiweersdae, sukkel tipies met drastiese veranderinge soos wat tans in ons samelewing plaasvind. Sommige mense verloor selfs hulle verhouding met God in swaar tye, bloot omdat hulle geloof dit nie kan hanteer nie. Die rede hiervoor is gewoonlik die teologie wat agter so iemand se geloof sit. Byvoorbeeld, ryk mense wie se identiteit gevorm word deur die mooi huise waarin hulle bly beskik heel dikwels nie oor ‘n gebalanseerde teologie wat hulle deur traumatiese ballingskapervarings kan dra nie.


Covid-19 het ons behoefte na ‘n gesonde teologie uitermate na vore gebring. Let wel: ons het nie die behoefte nou eers ontwikkel nie. Ons het dit nog altyd gehad maar nie besef voor Corona nie. Ons het almal ‘n teologie nodig wat ons aanpassingskapasiteit kan verhoog. Met ander woorde, ons vermoë om te kan deel met verrassings en ontnugterende veranderings. Hiervoor is ‘n ballingskapsteologie nodig. Iemand sonder so ‘n teologie het nie die ruimte in hulle geloof om moeilike tye en brutale veranderinge te kan hanteer nie. ‘n Ballingskapsteologie, daarenteen, skep die kapasiteit en ruimte om na te dink oor die moeilikste vrae van die lewe, om lyding met grasie te hanteer en om met hoop te leef in tye van moeilikheid, skaarste en tekort.


Mense met ‘n ballingskapsteologie verstaan dus dat ongemak, krisis, lyding, verlies en selfs dood, deel van die lewe is. Hulle aanvaar hierdie dinge as werklike geestelike moontlikhede vir hulle eie lewens sonder om pessimisties in hulle verwagtings te wees. Hulle sien die lewe nie as ‘n voorspelbare, statiese realiteit nie maar omhels die lewe as ‘n dinamiese avontuur waar God met ons is in al die moontlike situasies van die lewe. Sulke mense verstaan selfs dat Jesus van ons verwag om ‘n soort geloof te ontwikkel wat die moeilikste dimensies van die lewe moet kan hanteer.


Dis immers hoe Jesus sy dissipels voorberei het. Hy het hulle nooit probeer leer in ‘n klaskamer of kerkgebou met lugverkoeling nie. Hy het vir hulle gesê Volg My, en dan lei Hy hulle deur allerhande fasette en situasies van die lewe, regdeur sy eie kruisdood tot by die opstanding. Vir mense wat by Hom wil aansluit maan Hy om twee keer te dink want jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die Mens het nie eens rusplek vir die kop nie (Matteus 8:20). Jesus se beelde verwys hier na ‘n harde lewe van tekort. Hy verwys na Homself as ‘n arm daklose mens sonder ‘n heenkome van sy eie. Sy punt is dat indien ons agter Hom wil aankom moet ons gereed wees vir enige iets, enige verrassings, enige avonture, selfs vir ballingskap. Jesus-volgelinge moet dus ons aanpassingskapasiteit verhoog deur ‘n ballingskapsteologie te ontwikkel.


En Jesus?


Hy is met ons deur dik en dun, saam deur elke onseker tree.

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: