top of page

Almal hou van teleurgesteld wees - maar jy is nie almal nie!

  • Stephan Joubert
  • 2 days ago
  • 1 min read

Lyk my, sommiges hou daarvan om teleurgesteld te wees. Om elke hoek en draai hoor jy mense is teleurgesteld met hierdie skool, daardie kerk, hierdie fliek, daardie spreker … Dit voel kompleet asof party mense van teleurgesteld wees ’n voltydse beroep gemaak het. 


Om beïndruk te wees, gebeur nooit so spontaan nie. Hoekom nie? Dit het te make met ons voorkeur om moeilikheid eerste raak te sien. Kom ons wees eerlik: ons sien ander se foute en gebreke makliker raak as al die dinge wat hulle reg doen. Ons sien die lewe se slaggate gouer raak as diegene wat dit herstel. Daarom gebeur teleurgesteldheid so spontaan-maklik vir die meeste van ons.


Kom ons bring ’n einde aan sulke oordadige ingesteldheid met alles en almal rondom ons. Nee, ons hoef nie neutraal te wees nie. Ons basiese vertrekpunt moet egter wees om die beste van ander te verwag, soos wat 1 Korintiërs 13 van ons vra. Dit maak ons nie naïef of blind nie, maar dit bevry ons minstens van ons selfaangestelde plig om andere oorhaastig te oordeel en om dan vir die hoeveelste keer teleurgesteld te wees. Ons kyk eerder na mense met hemelse hoop. Ons verwag nooit uit die staanspoor hulle gaan ons faal nie. Ons klap graag hande vir dit wat hulle reg doen. So vestig ons ’n nuwe styl van beïndruk wees tussen al die voltydse teleurgesteldes. So leef ons binne God se wil.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page