• deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief - Februarie deel 2


Herwin jou selfrespek

Look at the word responsibility – response and ability – the ability to choose your response – Stephen Covey.

Ons het tegnologie volledig in ons lewens aanvaar. Daar is geen tyd om stil te staan en hierdie verhouding te heroorweeg nie. Tegnologie het ons kultuur en manière verander. Selfrespek en etiket het uit ons lewens verdwyn – dit is nou nie meer slegte manière om aan die eettafel op jou foon te praat nie. Ons werk het nie meer ‘n plek of tyd in ons lewens nie. Ons is op roep vir enigeen enige tyd van die dag, ons is permanent verbind aan slegte base, veeleisende kliënte en verveelde vriende.

Die belangrikste is dat tegnologie die onderskeid tussen dringend en belangrik uitgewis het. Dit is baie makliker om klein dringende sake te hanteer as die belangrike dinge in die lewe. As ons egter dringende sake bo belangrike sake kies, kies ons ander mense se prioriteite bo ons eie prioriteite. Dringende sake trek ons aandag van belangrike sake af. Belangrike sake is dinge soos tyd om na te dink en te droom.

We shape our tools and thereafter our tools shape us (Marshall McLuhan). Ons toestelle neem ons lewe oor, want dit is makliker. Hoe meer ons tegnologie vertrou, hoe minder vertroue het ons in onsself. Dit is vinniger/makliker om ‘n e-pos te antwoord as om na te dink oor jouself.

Om jouself te ken vereis harde werk. Selfrespek, prioriteite, goeie manière en goeie gewoontes is nie outydse ideale nie wat nou nie meer belangrik is nie.

Ons het ‘n keuse waaraan ons aandag wil gee. Kies altyd die belangrike dinge bo die dringende dinge. Die belangrikste is om weer balans in jou lewe te kry. Dink na en droom oor jou lewe. Jy is slimmer as jou slimfoon.

Grense vir leiers

Een van die hartseerste woorde van ‘n leier is: “Ek moes nooit toegelaat het dat dinge so ver gaan nie.” Leiers wens dikwels dat hulle strenger met hulleself was. Jesus verwag van ons om genoeg integriteit te hê om te sê: My Vryheid laat my toe om dit te doen, maar my hart sê vir my dit is nie ‘n goeie ding om te doen nie. Stel daar en dan ‘n grens. Grense is ‘n gawe wat leiers aan hulleself gee.

Die leier wat geen grense stel nie, kan nie verwag om ‘n langtermyn leier te wees nie Uitbranding en afdanking is ‘n werklikheid. ‘n Leier wat Jesus oor die langtermyn goed wil dien, stel hierdie vier grense:

1. Tyd

Ons tyd is beperk. Ons wil steeds alle dinge vir alle mense wees. Sommige leiers maak hulle onbeskikbaar. Hulle stel ‘n streng standard vir tyd en vertrou op hulle ondersteunende personeel om vir hulle in te staan. Vir baie leiers is dit net nie moontlik nie. ‘n Leier wat nooit tyd maak vir mense nie, moet ‘n kontrole vir nederigheid ondergaan. Leiers wat altyd tyd maak vir ander het dikwels ‘n probleem met selfvertroue.

‘n Gebalanseerde benadering is wys, verantwoordelik en moontlik. Dit is nooit te laat om ‘n nuwe grens te stel nie.

2. Aktiwiteit

Sommige leiers glo verkeerdelik dat hulle te enige tyd na enige plek kan gaan om mense te bereik. Ons glo ons is sterk genoeg om in enige omgewing en op enige plek te wees. Dit moet nooit oor ons gemak of voorkeur wees as dit gaan oor die evangelie nie. Ons moet wel onderskeidingsvermoë hê. Leierskap maak ons nie immuun teen uitbranding en sonde nie.

As kinders van Jesus Christus moet ons standaarde in ons lewens stel. Dit beteken ons het grense om plekke waarheen ons sal gaan. Hoe kan ons ander leer om onderskeidingsvermoë in hulle lewens te hê as ons dit nie self beoefen nie.

3. Verhoudings

Hierdie is waarskynlik die algemeenste plek waar ons grense nodig het. Leiers moet bewus wees van die strikke, die aantrekkingskrag en kwesbaarheid van verhoudings en grense vir ons stel. Hierdie grense moet wees wat nodig is vir ons, neem jou persoonlikheid en werkomstandighede in ag.

4. Praat

Vandag gee sosiale media aan elkeen ‘n platform om iets te sê. Wysheid is maar skaars en toenemend moeiliker om te kry. Die geraas is oorweldigend. Leiers moet bekend wees vir sterk en wyse Bybelse waarhede – sonder enige agenda. Leiers moet standaarde vir praat stel. Ons het grense nodig vir wat en wat nie ons in die openbaar sal sê.

Alles wat ons voel, dink en ondersteun hoef nie in die openbaar gestel te word nie. alles wat ons in die gesin in die veiligheid van die huis bespreek, hoef nie op Twitter geplaas te word nie.

Daar is geen nodigheid vir ‘n leier wat God volg om vloekwoorde of neerbuigende taal te gebruik nie. Die Woord van God is voldoende. Grense is ook nodig in hierdie gebied. Leierskap is kosbaar. God is ons voorbeeld Mag ons wyslik lei met die invloed wat Hy aan ons gegee het sodat ons Hom kan verheerlik.

Wen vertroue voor verandering

Verandering is moeilik. Voor ons verandering prober, moet ons eers ‘n aantal diagnostiese vrae vra. Een van hierdie vrae is: “Is die vertroue in ons verhoudings sterk genoeg om die verandering volhoubaar te maak?” Hierdie vraag word uiteraard gevra in die konteks van gebed voor God en nederigheid tussen kollegas van die leierskap span. Ons moet God se rigting wysing ontdek.

In meeste besprekings oor vertroue gaan dit oor die vertroue van volgelinge in hulle leiers. Dit is sekerlik ‘n prioriteit, maar vertroue moet in veelvuldige rigtings gaan voor ‘n groot verandering kan plaasvind. Dit moet gaan van leiers na volgelinge, volgelinge na leiers, tussen die leierskap span en tussen die volgelinge.

Leiers moet hulle volgelinge se vertroue wen voordat hulle enige betekenisvolle verandering aanpak. Volgelinge moet hulle leiers vertrou voordat hulle sal waag om die verandering aan te pak.

Leiers wen vertroue op twee basiese manière. Beide berus op karaktereienskappe soos integriteit en deursigtigheid.

1. Opofferende diens

Toe Jesus gesê het: Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien (Matteus 23:11) het Hy die geheim van suksesvolle leiers onthul. As jy mense vra vir geld en tyd om jou te help om die visie te vervul, moet hulle weet dat jy vir hulle omgee en lojaal aan hulle is. Offer op om mense te dien deur hulle diepste behoeftes te hanteer. Daarna kan jy hulle vra om op te offer vir die visie.

Leiers wen vertroue deur mense te dien Jong leiers moet in hulle “trustfonds vir leierskap” belê. Dit doen jy deur opofferende diens. Verhale oor diens sprei vining onder die mense wat met respek deur ‘n leier bedien is. Selfs leiers wat al veterane is, moet aanhou om vertroue te wen deur mense te dien.

2. Bevoegdheid

Leiers wen ook vertroue deur hulle bevoegdheid te demonstreer. As ‘n leier kleiner veranderinge goed hanteer, is volgelinge bereid om te waag as daar groter veranderings op pad is. As ‘n leier die geskiedenis het dat hy suksesvol verandering op een vlak kan hanteer, verdien hy die reg om vertrou te word met meer betekenisvolle veranderinge. Mense het vertroue in leiers as gevolg van sukses in die verlede.

A leiers bekwaamheid demonstreer, verdien hulle vertroue van beide huidige en toekomstige volgelinge. Met verloop van tyd word betekenisvolle vertroue opgebou. Dit dien as reserwe waaruit onttrek kan word tydens tye van verandering.

Onthou vertroue vir suksesvolle verandering moet in twee rigtings vloei. Leiers moet ook hulle volgelinge vertrou. Dit beteken dat hulle glo dat hulle volgelinge die hulpbronne en vermoëns het om doeltreffend verandering te implementeer. Hierdie vertroue word gebou deur volgelinge met respek te behandel, goed van hulle te praat, hulle te bemagtig en om hulle toe te laat om sekere besluite self te neem. As leiers volgelinge intimideer of hulle pogings afkraak of hulle motiewe bevraagteken word vertroue ondermyn. As leiers weier om take te delegeer en ander nie toelaat om besluite te neem nie, gaan geleenthede om vertroue te demonstreer en te bou verlore. Leiers bou vertroue onder volgelinge deur aan hulle verantwoordelikhede en gesag om besluite te neem, te gee. Daarna moet wat volgelinge bereik het gevier word.

Is dit die heilige graal vir doeltreffende leierskap?

Die term “Heilige Graal” word gebruik vir iets wat ernstig nagejaag word of wat gesoek word. Groot leiers soek altyd manière om beter te lei. Is dar so iets soos ‘n heilige graal vir leierskap? Waarskynlik nie, maar daar is ‘n belangrike konsep – groei denke.

Leiers met gefikseerde denke glo dat hulle vermoëns vas en klaar is. Leiers met groei denke glo dat hulle voortdurend kan groei en verander. Carol Dweck het ‘n proefneming gedoen om te bepaal hoe kinders mislukking hanteer. Sy gee aan hulle legkaarte wat toenemend moeiliker word. Sommige kinders gooi tou op terwyl ander volhard. Hulle glo dat die moeiliker legkaarte hulle vermoë om legkaarte op te los verbeter.

Wat maak die verskil? Die belangstelling of aanleg maak nie ‘n verskil nie. Die kinders wat gestop het, het ‘n gefikseerde denke. Kinders wat volgehou het, het geglo dat hulle vermoë om legkaarte op te los het nie gefikseerde denke gehad nie. Hulle het geglo dat hulle kan groei en verander.

Die kinders wat vasgebyt het, het nie gevoel dat hulle misluk het nie al kon hulle nie die legkaart voltooi nie. Vir hulle was die legkaart meer soos ‘n afrigter en nie soos ‘n referendum oor hulle vermoëns en intelligensie nie.

Uit hierdie studie is dit duidelik dat groei denke belangrik vir doeltreffende leierskap is. As ons glo dat ons vaardighede en vermoëns staties is – ons is daarmee gebore - sal ons nie persoonlik groei nie. Ons leierskap sal ook nie groei nie. As ons voor moeilike uitdagings te staan kom en as ons glo God aan ons die vermoë gegee het om te groei en te ontwikkel, sal ons meer doeltreffende leiers word.

Hoe kan ons hierdie groei denke ontwikkel?

1. Wees bewus van die stories wat ons vir onsself vertel

Metakognisie is om te dink waaroor ons dink. As jy weer voor ‘n moeilike leierskapprobleem te staan kom, luister na wat jy self praat- pas metakognisie toe. Vertel die stories wat jy vir jouself vertel van ‘n gefikseerde of groei denke?

2. Besef dat om angstig oor ‘n leierskapsuitdaging te voelnie ‘n gebrek aan geloof beteken nie.

Ons brein hou nie van onsekerheid nie. As ons voor ‘n onsekere uitdaging te staan kom, stel die vlugsentrum in ons brein hormone en neuro-oordragstowwe vry. Die gevolg is die onaangename gevoelens – soos angs - wat ons voel. Leierskapsuitdagings is onseker en die gevoel van angstigheid is normal. Dit het niks met jou vermoë om die uitdaging te hanteer te doen nie.

3. Sluit leer as ‘n doelwit in as jy deur ‘n leierskapsuitdaging gekonfronteer word

As ons met ‘n probleem gekonfronteer word, wil ons sekerlik die problem oplos as jy weer voor ‘n uitdaging te staan kom, sluit as ‘n maatstaf van sukses in wat jy werklik oor jouself en die probleem geleer het. Wat jy geleer het, mag op die langtermyn beter wees as die oplossing van die probleem.

4. Moenie bang wees vir mislukking nie

Die moontlikheid van mislukking mag nooit die rede wees waarom jy van uitdagings wegskram nie. Jesaja het vrees met hierdie woorde hanteer:

Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand hou Ek jou vas (Jesaja 41:10).

Groei denke mag dalk nie die heilige graal van doeltreffende leierskap wees nie, maar dit kan ‘n uitgesproke verskil aan jou vermoë om te lei, maak. Goeie leiers ontwikkel ‘n groei denke en vermy ‘n gefikseerde denke.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: