• deur Siegfried Louw

Miniatuur Doberman


Die bestuurders gluur mekaar agterdogtig aan by die vierrigting-stopstraat. Dit is spitstyd, so niemand vermoed dat die ander mense weet hoe om te bestuur nie. Wie se rybeurt dit werklik is, is elke keer onder verdenking.

Op die een hoek gebeur ʼn indrukwekkende onderonsie.

ʼn Groot man het met sy (ronde) miniatuur Doberman gaan stap. Die hondjie se agterstewe bewe van opwinding. Maar die man hyg. Hy het ver genoeg vir die dag geloop, staan dit op sy nat voorkop geskryf. Hy trek die hondjie aan sy leiband om oor die straat terug te stap huis toe, maar die hondjie blaf parmantig terug – die dingetjie plant sy vier pootjies so ver as moontlik van mekaar en laat sak sy bewende lyfie. Vir hóm is dit nog nie huis-toe-gaan-tyd nie.

Die man lag en beduie met sy vinger in die rigting wat hy wil stap. Die hondjie blaf vies en pluk aan die leiband. En die motor agter my toet want ek het vergeet om vorentoe te ry. Die man wys weer in die rigting wat hy wil stap, maar Wiphond spring vies op en pluk anderkant toe. Die man lag. Hy sug. Dan begin hy maar stap in die rigting waarin die semi-miniatuur doberman-pokkel beur.

Dis my beurt om te ry. En ek gaan oor die kruising terwyl ek die tweetjies gade slaan. In my truspieël gewaar ek dat Wiphond skielik spyt kry oor hy sy sin gekry het. Sy ronde lyfie is ook al moeg. Hy stop en kyk om na die man. Wanneer die man by hom kom, spring die hond op en wag dat die man hom optel. As beloning kry die man se gesig ʼn vinnige lek. Hy lag weer. En so stap hulle tussen die ongeduldige bestuurders deur terug huis toe, waarheen die man van die begin af in elk geval op pad was. Die hond wou net eers sien of hy ook ʼn sê het.

God hou ons nie aan ʼn leiband vas nie. Maar ons stap saam met God. Oop en vry. Ek dink hoe die Here my soms die weg wys, maar dat ek instinktief toets of ons nie dalk anderkant toe moet beur nie. En omdat God sagkens werk, word ek nie geruk en pluk nie. Maar wanneer ek my kom kry, besef ek dat God se rigting die regte een is. Waar ware rus lê. En as ek verkeerd gekies het, tel Hy my op en dra my na waar ek tog eintlik wil wees. Al het ek my slim gehou.

Psalm 130:5-8

Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom,

ek wag op die vervulling van sy woord.

Ek wag op die Here

meer as wat die wagte op die môre wag,

wagte op die môre.

Wag op die Here, Israel,

want by die Here is daar troue liefde,

by Hom is die verlossing seker.

Hy alleen sal Israel verlos

van al sy sondes.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: