top of page

’n Nuwe vandag is hier!

  • Stephan Joubert
  • Dec 23, 2019
  • 1 min read

God se nuwe vandag begin in Betlehem. In Lukas 2:11 roep die engel dit uit dat Jesus vandag vir ons gebore is. Die Verlosser het aangekom. Daar is ’n splinternuwe vandag op God se kalender. Die tyd het gedraai - vir altyd. Die nuwe dag van die Here is hier, want Jesus is hier. Om in Hom te glo, is om te leef in Jesus se nuwe tydsone. Dit is om deel te wees van God se ewige, nuwe vandag. Hoor asseblief weer: die seisoen het gedraai. Die ou dae van dood en donkerte is oor en verby. Jesus se nuwe vandag is propvol genade, vrede en goedheid.

God se nuwe vandag is ook goeie nuus vir mense in nood. So vertel Jesus wanneer Hy sy openbare optrede begin in Nasaret. Terwyl Hy aanhaal uit Jesaja, vertel Hy in Lukas 4:16-21 van God se nuwe vandag wat pas in vervulling gegaan het. Hierdie nuwe vandag is goeie nuus vir mense in nood. Armes, gevangenes, blindes en verdruktes gaan van nou af die Here se goedheid op konkrete maniere beleef. Die genadejaar van die Here is hier vir almal, maar ook vir mense wat ly en swaarkry - van vandag af! Jy en ek moet dit hoor. Ons moet sorg dat hierdie goeie nuus ook sulke mense se lewens bereik. Hier in kersfeestyd moet God se nuwe vandag ons eie lewens propvol vreugde maak. Maar dit moet ook goeie nuus wees vir al Jesus se gunsteling mense oor wie Hy Hom hier in Lukas 4 ontferm.


 
 
 

Commentaires


bottom of page