Vryheid
- Stephan Joubert
- Nov 1, 2019
- 1 min read

Wat ‘n intreepreek het Jesus nie daar in sy tuisdorp, Nasaret, gelewer nie. Hy het daar in hulle midde die einste woorde van Jesaja laat waar word dat die Gees swaar op die Kneg van die Here gaan rus sodat Hy ‘n nuwe boodskap van bevryding vir almal kan bring. Nee, die Gees red nie net mense se siele nie. Hy bring ook bevryding vir mense midde in hulle sosiale en ekonomiese nood.
Die Gees se Kneg, maar ook al sy aardse knegte is aangesteldes van God om tronkdeure voor gevangenes oop te sluit; om blindes te laat sien; dowes te laat hoor; onderdruktes te bevry en om die nuwe sabbatjaar van die Here hier op aarde aan te kondig. Die Gees verander alles. Hy tree in die bres vir armes, siekes, noodlydendes, stukkendes en eensames. Hy gebruik jou en my om hulle te gaan dien. Ons is aangestel saam met die Kneg van die Here om egte goeie nuus te bring. Ons moet vir die wêreld gaan vertel dat God se bonusjaar aangebreek het met Jesus se koms, sy jaar van uitstel en afstel van vonnisse. Nou is God se reddingstyd hier. Nou is dit die tyd dat God se goedheid moet skitter en skyn. Nou is dit jou en my kans om lig te wees in die donker en sout in ‘n smaaklose wêreld. Nou toe, gaan doen dit!
Gebed
Jesus, die wêreld se bonusjaar het aangebreek, ook vir my. Help my om hierdie skitterende nuus verder uit te dra. Amen
Comments