top of page

‘n Hemelse meerderheid!

Stephan Joubert

Skaars is Jesus gedoop of dit was werkstyd vir Hom. Die Gees self was sy gids en padwyser woestyn toe. Hoekom die woestyn? Wel, omdat God se groot manne altyd eers hier deur die meule moes gaan. Vat maar vir Elia of Moses wat telkens hulle eie 40 dae toetstyd daar moes deurbring om te kyk of hulle honderd persent gehoorsaam aan God is. Nou was dit Jesus se beurt. Maar Jesus het nie op sy eie gegaan nie. Die Gees was by Hom. Daarom dat Hy die duiwel ses-stroop, ses-stroop met al drie sy groot versoekings kon uitklop.

Sonder die Gees moet jy nêrens heen gaan nie. As nie eens Jesus sonder Hom woestyn toe gestap het nie, hoe kan jy en ek dit dan waag om selfs een dag sonder sy teenwoordigheid en krag die lewenspad aan te durf? Al lei die Gees se pad vandag ook met jou deur die woestyn, loop dit dan! Al moet jy dalk teen formidabele vyande uitdraf, gaan daardie geveg vreesloos tegemoet. Saam met die Heilige Gees is jy altyd ‘n hemelse meerderheid. Hy is die oormag in elke geveg. Hy is lewe in ‘n plek van dood. Hy is hemelse voedsel in ‘n woestyn propvol broodgebrek. Hy is krag in ‘n kragtelose land. Moenie terugdeins as die Gees in en om jou is nie. Die Meerderheid is aan jou kant.

Gebed

Heer, U Gees se teenwoordigheid oorweldig my. Dankie hiervoor. Amen


bottom of page