Goed genoeg is goed genoeg
Baie mense is die slagoffers van ‘n misplaaste idee dat hulle net nooit goed genoeg in ander se oë is nie. In Engels noem hulle dit die “impostor syndrome”. Sulke mense moet altyd nog harder werk en nog meer doen om almal rondom hulle se goedkeuring te wen.
Dit is nie gesond om met sulke onnodige skuldgevoelens opgeskeep te sit nie. Ons waarde is eerlikwaar nie opgesluit in alles, wat ons doen nie, maar in wie ons is. Ons as gelowiges glo tog dat die Here ons waarde bepaal. Hy noem ons Sy kinders en ons is dit ook, soos wat 1 Johannes 3 leer. In sy oë is ons lankal goed genoeg. Regtig, ons is!
God hoef nie gedurig ons liefde vir Hom te toets, of ons van vroeg tot laat aan allerhande hemelse prestasiemetings te onderwerp nie. Dit het Jesus lankal namens ons gedoen.
Kom ons vind ons eiewaarde opnuut in Hom. O ja, kom ons herinner onsself sommer ook aan die volgende wyse woorde wat Rick Warren een keer oor sy gemeente gesê het: “At Saddleback we practice the good enough principle: It doesn’t need to be perfect for God to bless it.” Ons doen alles wat ons doen tot eer van die Heer. Dan is dit goed genoeg.




Comments