
“Churchill wrote to his wife, Clementine, in 1911 mentioning a friend’s wife who had been treated by a doctor for apparent depressive episodes.
“I think this man might be useful to me – if my black dog returns,” he said. He also wrote to her in 1916 of “terrible and reasonless depressions.” Black dog' was the term Winston Churchill used to describe his own depression” – The Telegraph
Churchill was ongetwyfeld een van die grootste Britse leiers – ‘n hoogs begaafde mens wat volgens menslike standaarde die toppunt van die leer bereik het. Tog moes hy in sy lewe gereeld teen donker gevoelens wal gooi. En almal het tye wanneer hierdie “swart hond” kom besoek aflê, voor ons kom sit en homself innooi. Ongenooid.
Hierdie artikel is nie oor kliniese depressie waarvoor daar medikasie is nie. Hierdie gaan oor daardie tye van emosionele moegheid, broosheid en weerloosheid. Dis wanneer ek voel ek haal nie die paal nie en dit voel of my probleme my gaan baasraak.
Dan kyk ek makliker na slegs my swakker eienskappe, gewoontes en mislukkings. Gedagtes maal in my kop – gedagtes van waardeloosheid of oormatige skuldgevoelens oor iets wat ek gedoen het of nagelaat het om te doen. My emosies ry wipplank en al probeer ek dit op ‘n kognitiewe vlak wegredeneer, oorheers my negatiewe emosies my denke.
Sulke lae tye in my lewe maak dat ek nie net oor myself en ander sleg voel nie; heel dikwels is my verhouding met God een van die areas wat deurloop. Wanneer ek emosioneel laag is vergeet ek dat dit nie my volmaaktheid is wat my deur die lewe sal bring nie, maar Syne. En is dit juis nog meer belangrik om myself te herinner aan God se liefde en trou en dat ek my troos, hoop en vrede by Hom sal soek deur daaglikse gebed en Bybelstudie. Hy het ons nie vergeet nie en sal ons nie aan onsself oorlaat nie. Hy is saam met ons totdat ons veilig daardeur is.
Dit is goed om in hierdie tyd die Psalms te lees want hierdie boek gee woorde aan ons gevoelens. Dit laat ons voel dat iemand anders ook ons leegheid verstaan. Dat die Bybel hierdie “depressieliedere” bevat, is vir ons tegelykertyd ’n troos, want ander mense van God het dieselfde beleef.
In hierdie droeë tye is die woorde van Sefanja ‘n versterking en herinnering dat God my oneindig liefhet:
“Die Here jou God is by jou,
Hy, die krygsman wat red.
Hy is vol vreugde oor jou,
Hy is stil-tevrede in sy liefde.
Hy jubel en juig oor jou”
Sefanja 3:17
(met gedeeltelike erkenning aan Annes Nel)