
Die Ou Testament is vol beloftes van die Gees wat eendag in volheid by al God se kinders sal kom bly. Sien, in die Ou Testamentiese era was die Gees nie 24/7 aan diens by al God se mense nie. Vat maar vir koning Saul. Toe hy as koning van Israel gesalf is deur die profeet Samuel het die Gees van die Here in hom begin werk (1 Samuel 10:6 en 10). Maar die Gees was nie op dieselfde manier aan die werk in elke Israeliet wat die Here geken het nie, slegs in ‘n handjievol Godvresende profete en konings. Kortom, die Gees se teenwoordigheid was beperk tot daardie klein groepie mense wat aste ware op die brug tussen God en die mense gestaan het.
Toe Saul sy eie pad begin loop en uiteindelik begin het om die Here se opdragte blatant te verwerp, het die Gees van God hom permanent verlaat. Wat ‘n tragedie. Toe was Saul regtig alleen- so alleen dat hy as ‘n tragiese figuur gesterf het. Gelukkig leer die Nuwe Testament dat die Heilige Gees nou by God se mense vir altyd bly. Maar dit beteken nie dat ons kan leef soos wat ons wil nie. Inteendeel. Die Gees self sorg dat ons heilig leef. Hy verander ons in lewende tempels van God
Gebed
Here, heilig my lewe. Maak my tot ‘n mooi tempel vir U. In Jesus se Naam. Amen