• deur Liezel Lüneburg

Depressie is ʼn donker gat


Geil groen verander in skakerings van herfs en bome skud blare af. Die son gaan vroeër onder en steek eers later weer kop uit – meer ure in die dag dwaal tussen grys en donker.

Die lig raak mistroostig en die tekens van winter bring ʼn sekere weëmoedigheid. Veral vir dié wat aan depressie ly. Soos ek. Swartgalligheid trek my jaar na jaar in die herfstyd plat. Die laaste weke was onproduktief en ek het min om te wys; energie het in lusteloosheid verander en die moedeloosheid lê vlak.

Ek dwing myself om in die tuin te werk; plant en werskaf, druk my hande in die ryk grond. Gelukkig is die Laeveldse tuinkalender meer tegemoetkomend as elders.

Ek plant microgreens en kyk met verwondering hoe die dooie saad nuwe lewe kry. Die piepklein plantjies beur deur die grond na die lig en groen blaartjies vou dankbaar oop.

Ek probeer om besig te bly, al is ek nie lus om op te staan nie. Gelukkig (of ongelukkig, as jy uit ʼn ander hoek daarna kyk) werk ek van die huis af. Dit gee my spasie om tussen die werk deur reg te pak en skoon te maak en uit te gooi. Ek maak kos, al proe alles effe smaakloos en ek lees, al klink die woorde leeg.

Ek raak meer betrokke by die sosiale bystand-projek van die plaaslike hoërskool. Paulus was reg toe hy gesê het dat die Here Jesus Christus self ons geleer het dat dit ʼn mens gelukkiger maak om te gee as om te ontvang.

Ek dwing myself om Bybel te lees en (soms woordeloos en met versugtinge) te bid. Al voel dit of die beloftes maar net eggo’s van lank terug is. Ja, depressielyers vind dit moeilik om enige plek vertroosting te vind, selfs by God. Ek is nie skaam om dit te erken nie.

As niks wil werk nie...

... gaan kuier ek by dr. Manyage, die psigiater. Voordat sy tot die oorlog toegetree het, het die regte behandeling bly ontwyk. Nou is die depressie-medikasie ʼn geskenk van God.

Soms, net soms, omseil die swart hond die dapper pogings en die pille en sprei sy donker web. “My dae verdwyn in stiltes soos kwartels in lang gras,” skryf DJ Opperman.

Depressie is ʼn werklikheid. Net soos dood en diabetes en kanker en armoede en oorlog en alle ander angswekkende aardse monsters. Tog is daar altyd hoop: Die donkerste tonnels loop uit op lig en in die diepste gate hang daar ʼn tou van hoop.

Van al die teenfoeters wat ek hierbo gelys het, is ʼn volgehoue verhouding met God die belangrikste. Ons leer dit, om maar een voorbeeld te noem, in 1 Konings 19. Elia het in ʼn diep depressie verval, onder ʼn besembos gaan lê en gewens hy gaan dood. Gaan lees weer vir ʼn slag hoe die lewende God hom weer in die lig ingedwing het.

Kom ons almal bid vandag vir depressielyers. Hulle het dit meer nodig as brood.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: