top of page

Gesonde gesinsverhoudings in ‘n virtuele wêreld [resensie]

deur Marius Nel

Johan Smith is ‘n gewilde spreker en skrywer en hy fokus op jongmense, gesinne en ouers. Hy preek gereeld by die Moreletapark Gemeente en bied ook daar kursusse aan. As skrywer van talle boeke het hy genoeg ervaring om weer eens ‘n boek in die hand van gesinne te plaas wat hulle gaan help om hulle gesinslewe te red van ‘n katastrofe wat wêreldwyd plaasvind en verband hou met die rol wat sosiale media, slimfone en ander elektroniese afgode in ons lewe begin inneem het.

Terwyl mense baie besig is en gesinslede mekaar dikwels slegs in die verbygaan sien, word die tyd wat gesinne saam spandeer soms ingeneem deurdat elkeen individueel se aandag deur ‘n skerm van een of ander aard opgeneem word. Die gesin is saam in liggaam maar in gees is elkeen op ‘n eie planeet! En dis nie net die kinders wat met ʼn ipad besig is of ʼn rekenaarspeletjie speel nie; pa en ma is ook besig om eposse, SMS’s en WhatsApps te antwoord en tussendeur te kyk wat in ander se lewens op Facebook gebeur.

Johan verduidelik hoe maklik teen spoed in teenspoed vir gesinne verander terwyl dit krities belangrik is dat gesinne tyd met mekaar saam spandeer, na mekaar luister en mekaar in die oog kyk. Hy kom met praktiese raad wat ouers kan toepas om hulle gesinne weer bymekaar uit te bring. So stel hy voor dat die etenstafel weer gedek word, dat die gesin op ʼn gereelde basis ʼn binnenshuise piekniek hou, dat gesinslede leer om saam die natuur te geniet en te waardeer, om saam pret te hê en te lag, om oor onsself met mekaar te begin praat, om te leer om doelbewus in mekaar te belê, om van kosmaak ʼn prettige saamwerk te maak en om tegnologie aan te wend om konneksies in die gesin te verbind, eerder as om dit te gebruik om van mekaar weg te groei.

Die praktiese aard van die raad is die grootste winspunt van die boek, meen ek. Die skrywer verveel jou nie met lang en ingewikkelde bewyse dat gesinne nie meer tyd maak vir mekaar nie. Hy maak jou eerder opgewonde met voorstelle hoe jy jou gesin bymekaar kan kry.

Ek dink dié boekie is baie tydig en uiters relevant. Elke Christenouer behoort dit onder oë te kry omdat dit klem daarop plaas dat geloofsvorming primêr in die gesin plaasvind. En ek hou baie van die voorstel dat jongmense nie tegnologie nodig het om te kan oorleef nie, al dink hulle die dood bestaan uit ʼn dag sonder ʼn slimfoon!


bottom of page