top of page

Kerk is nie ’n werkwoord nie, maar…

  • Stephan Joubert
  • Feb 18, 2019
  • 2 min read

Dit het mode geword om te sê ons moet gaan kerk wees in die wêreld. Tog verduidelik die Nuwe Testament dit ietwat anders. Met name word die Nuwe-Testamentiese woord vir kerk, naamlik ‘ekklesia,’ nooit as ’n werkwoord ingespan nie. Kerk is altyd ’n gemeenskap van mense wat bely en beleef Jesus is die Here. Kerk is gelowiges wat saamkom om die Here te dien en te aanbid. Kerk is gelowiges wat opgebou te word in geloof. Oor en oor word die term opbou gebruik wanneer kerk in die Nuwe Testament ter sprake is. In Efesiërs 2:20-22 hoor ons byvoorbeeld dat die kerk gegrond is op Christus as hoeksteen en dat gelowiges hier saam opgebou word tot ’n heilige gebou vir die Here. In Efesiërs 4:8-11 lees ons ook dat God sekere mense as gawes aan sy kerk gee met die doel om gelowiges op te bou in hulle kennis van Christus en tot geestelike volwassenheid en eenheid. Kerk is dus die geestelike gimnasium waar gelowiges se geloofspiere geoefen word. Kerk is die simfoniesaal waar ons stemme ingeoefen word om God te loof. Kerk is die hospitaal waar ons wonde verbind word en medisyne uitgedeel word. Kerk is die familie-byeenkoms waar die Here se mense feestelik saamkom en mekaar ondersteun en bemoedig.

Maar wat dan van die kerk se roeping na buite? Ja, natuurlik het ons as gelowiges ’n voltydse roeping om orals Christus se sout en lig te wees Maar hier onderskei die Nuwe Testament tussen die kerk as samekoms van God se mense en die koninkryk van God waar ons as gelowiges indiwidueel ons getuienis uitleef. Terwyl die kerk veral gefokus is op die opbou van ons geloof, is die koninkryk van God gefokus op God se heerskappy en op die uitbou van ons geloof op elke plek waar ons kom. In Handelinge 9:2 hoor ons juis dat gelowiges wat reg na buite geleef het as getuies vir Christus spoedig bekend geraak het as “mense van die weg”, “people of the way.” Of as Christene (Hand. 11:26). As dissipels van Christus is ons voltyds werksaam in die koninkryk van God. Trouens, ons roeping is om die koninkryk van God te laat kom. Ons volg immers vir Jesus wat gesê het: “Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom” (Markus 1:15).


 
 
 

Comentarios


bottom of page