top of page

Nuwe lewe

Marietjie Joubert

Ek raak sommer uitasem van opgewondenheid as ek hierdie teks lees. Net soos wat ek opgewonde kan raak oor ‘n verjaarsdagpakkie, gryp hierdie belofte van die Here my aan die hart! Ons een en elk ontvang ‘n nuwe lewe omdat Christus uit die dood opgestaan het. Hierdie nuwe lewe kom net van God af deur Sy seun Jesus Christus. Deur Sy dood aan die kruis mag ons hierdie ongelooflike geskenk kry. Hierdie geskenk word aan elkeen gegee wat in Sy kruisdood en opstanding glo. As jy Christus bely, en Sy dood en opstanding verkondig, is jy die ontvanger van hierdie ewige geskenk.

Ons lees in vers 4 dat hierdie geskenk vir ons in bewaring gehou word in die hemel. Ons weet alreeds wat die geskenk is, ja, die ewige lewe. God het klaar vir ons vertel van hierdie ewige, onuitwisbare geskenk. Ons weet dat ons dit gekry het. Omdat hierdie geskenk so kosbaar is, bewaar Hy dit vir ons self in die skatkamers van die Hemel. Wanneer jy jou laaste asem hier op aarde uitblaas en in die poorte van die hemel opdaag, staan God self en wag vir jou met oop arms met die geskenk van die ewige lewe. Dan verwelkom Hy jou in Sy Koninkryk met die belofte dat jy vir ewig saam met Hom gaan lewe.

Wat ‘n geskenk is dit nie. Dank en loof God vandag vir die ewige lewe!


bottom of page