top of page

Soms is radikale keuses nodig

Roedolf Botha

Soms moet ‘n mens kies tussen die gesondheid van jou siel en ‘n liefde vir die wêreld. Ek hou oor die algemeen glad nie van wit-swart denke wat gevoed word deur rigiede of/of (either/or) gesindhede nie. Maatskappye hoef nie altyd te kies tussen waardes of wins nie. ‘n Goeie leierskapspan kan kreatief leiding gee op so ‘n manier dat beide wins sowel waardes gehandhaaf kan word. Ouers hoef nie altyd te kies tussen beginselvastheid of pret in ‘n gesin nie. Innoverende ouers kan vir kinders goeie lewensbeginsels en morele waardes leer sowel as ‘n kultuur skep waar almal in die gesin pret kan hê.

Wanneer dit egter kom by die mees fundamentele lewensbeginsels of hoër-orde sake (soos geloof of diep lewenswaardes) dan is meer radikale keuses egter nodig.

Ek het onlangs ‘n toneel in Netflix se reeks The Tudors gesien wat my baie hieraan laat dink het. In die reeks – wat handel oor die despotiese koning Henry VIII en sy nasate – word dit uitgebeeld hoe dat sir Thomas Moore in ‘n sel toegesluit is en later tereggestel is op bevel van die koning. Moore was egter een van die min geestelikes in sy tyd wat die moed van sy (geloofs-) oortuiging gehad het om teenstand te bied teen die magtige Henry se immorele wellustigheid onder vrouens. Henry het eenvoudig besluit om sy huwelik met sy eerste vrou Catherine, te beëindig, sodat hy met die bekende Ann Boleyn kon trou. Hy het eenvoudig verwag dat die kardinaal en die ander geestelike leiers in sy hof na sy pype moes dans en sy egskeiding summier moes goedkeur, wat meeste van hulle tot hulle eie skande gedoen het.

Nie Thomas Moore nie. Hy het gevoel sy siel sal skade lei indien hy sommer net toegee tot die koning se sondige impulse en begeertes. Gevolglik is hy toe in ‘n sel aangehou en moes hy wag op sy eie teregstelling. In ‘n spesifieke toneel net voor sy teregstelling gee Henry hom egter sy laaste kans om sy opinie te verander en die koning se kant te kies. Indien nie sou Moore dan finaal gevonnis en tereggestel word. Op hierdie laaste kans antwoord Moore toe egter die volgende:

You force me to choose between keeping my body or keeping my soul. I choose my soul.

Moore het verstaan dat geloof in Jesus ‘n fundamentele waarde is wat nie afgewater kan word nie. Dis nie soos die keuses tussen besigheidswaardes en wins, of beginselvastheid en pret, of ander gewone voorkeure nie. Dis lig of donker, lewe of dood. Hierdie twee kan nie vermeng word nie. Dis soos swaartekrag wat ook ‘n fundamentele fisiese realiteit is. Jy het net twee keuses. Jy aanvaar swaartekrag as ‘n realiteit en lewe, of jy ignoreer dit, doen dom dinge wat teen gravitasie werk, en sterf. So ook met dinge rakende jou siel, of die lewe as geheel.

Jesus het veral daaroor gepraat. In Matteus 16:23 sê Hy:

… want wie sy lewe (siel) wil behou sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe?

Jesus is soos swaartekrag (behalwe dat Hy swaartekrag geskep het!). Hy is die mees fundamentele Realiteit. Indien jy wil lewe, werklik wil léwe, kan jy Hom nie slegs halfpad volg nie. Jesus is te belangrik. Hy is die Alfa en Omega, die Begin en die Einde. Hy is die Lig vir die wêreld. Hy is die Brood van die lewe. Hy is die mees fundamentele Realiteit van die geskape wêreld. Die lewe werk nie sonder Hom nie. Hy ís die lewe self!

Daarom dat ‘n louerige commitment heens Jesus nie regtig werk nie. Geloof is ‘n uitruilhandeling, ‘n trade off. Ruil álles van jouself vir álles wie Jesus is, en lewe ten volle!

Wat sal jý gee in ruil vir jou lewe?


bottom of page