top of page

Jesus – die beste Vriend ooit vir meisies [resensie]

deur Marius Nel

As daar 12 miljoen van jou boeke verkoop het, beteken dit dat lesers gerus van jou nuwe boek kennis kan neem. En die nuwe boek van Elizabeth George is werklik iets wat die moeite werd vir tienermeisies is. Gelukkig het CUM en Christian Art die boek ook in Afrikaans vertaal.

Die doel van die boek is om die meisie aan Jesus voor te stel as die Een wat kwalifiseer om haar beste vriend te wees. Hy kan ‘n beste vriend wees omdat Hy nooit sy vriende in die steek laat nie, al het verskeie van sy aardse vriende (dissipels) dit met hom gedoen, en ook in tye wat dit hom die seerste gemaak het. Hy is ‘n vriend wat nooit wegtrek of sy lojaliteit na ‘n ander vriendekring verskuif nie.

Elkeen van die tien hoofstukke bestaan uit ‘n kort bespreking, ‘n gedeelte met “pret uit die Woord’, en dan heelwat plek om self eie gedagtes neer te skryf en vrae te antwoord.

Die boek verskaf nege goeie redes hoekom Jesus die beste vriend is wat enige meisie kan hê: want Hy sal jou altyd liefhê ongeag wat gebeur, jy kan op Hom vertrou in alle omstandighede, Hy bid vir jou en dra jou belange op sy hart, Hy is daar wanneer ook al jy Hom nodig het en in alle omstandighede, Hy verstaan, Hy is genadig, Hy is vrygewig, Hy is getrou en Hy is wys.

Die boek is in geselstrant geskryf sodat dit die leser intrek en uitnooi om terug te antwoord. En daardie antwoorde is dikwels reeds gebede wat verwoord word.

Die boek is mooi gedruk met ‘n funky lettertipe wat jongmense sal boei. En die prys is baie billik. Dis ‘n gawe geskenkidee; koop gerus ‘n paar en hou byderhand soos die jaar vorder. Waarmee kan ‘n mens iemand meer seën as met ‘n boek wat ‘n geestelike belegging maak wat tot in ewigheid dividende dra?


bottom of page