• deur Stephan Joubert

Daniël: Tussen die leeukuil en visioene


‘n Ongelowige filosoof vertel dat hy op ‘n dag in ‘n trein tussen ‘n klomp priesters beland het. Een van sy vriende vra hom na die tyd hoe dit gevoel het. “Wel, soos ‘n leeu tussen ‘n klomp Daniëls!” Ja, daar is min mense wat nie die verhaal van Daniël in die leeukuil ken nie. Of die storie van Daniël se drie vriende in die vurige oond. Inderdaad is Daniël van die bekendste boeke in die Ou Testament; wel, ten minste dan die verhalende gedeelte van die boek (hfst 1-6). Deel twee van Daniël (hfst 7-12), wat handel oor allerhande visioene en gesigte, is minder bekend. Maar hierdie laaste hoofstukke is weer vir baie mense ‘n bloudruk vir die wêreldgeskiedenis. Hulle sien in hoofstuk 7-12 allerhande voorspellings oor die einde van die wêreld en die antichris.

Ken jou feite!

Om Daniël te verstaan moet ons iets weet oor die agtergrond van die tyd toe dit ontstaan het. Dit lyk of Daniël heel laaste van al die boeke in die Protestantse kanon geskryf is, iewers in die tweede eeu voor Christus. Helaas weet ons nie wie die skrywer van Daniël is nie. Ook nie hoekom dit oorspronklik in twee tale geskryf is nie, naamlik in Hebreeus (1:1-2:3 en 8:1-12:13) en Aramees (2:4-7:28). Maar dit is duidelik dat die skrywer op hoogte was met die inhoud van boeke soos Genesis en Jeremia. Trouens, in hoofstuk 9 word dele uit Jeremia 25 en 29 van toepassing gemaak op die situasie wat die skrywer aanspreek.

Daniël ontstaan moontlik in die tyd van Antioges IV Epifanes wat die Joodse volk baie sleg in hulle eie land verdruk het. Hy was ‘n Seleukied wat vanaf 175-164 voor Christus oor Palestina geheers het. Nadat sy voorganger, Antioges III, die Jode toegelaat het om hulle eie godsdiens te beoefen, het Antioges IV besluit om ‘n stokkie hiervoor te steek en om Jerusalem in ‘n Griekse stad te omskep. Kort voor lank het hy skrikwekkende dinge begin doen soos om varke op die brandofferaltaar in die tempel te offer, en om ‘n standbeeld ter ere van die god Zeus in die tempel te laat staan. Asof dit nie erg genoeg was nie, het Antioges IV ook gereël dat daar in elke Joodse dorp ook ‘n standbeeld vir Zeus opgerig moet word en dat die mense offers vir hom moet bring.

‘n Man met die naam Mattatias en sy seuns het toe in opstand gekom teen Antioges IV se booshede. Judas, een van Mattatias se seuns, se bynaam was Makkabeus, oftewel: hamer. Daarom het hulle optrede teen Antioges IV as die Makkabese opstand bekendstaan. Kort voor lank het die hele volk hulle agter die Makkabeërs geskaar. Uiteindelik, in die jaar 164 voor Christus, het die Jode hulle vryheid teruggewen en dit met die fees van die tempelwyding gevier.

Daniël se eerste lesers bevind hulleself midde in die Makkabese stryd. Hulle beleef aan hulle eie lyf hoedat alles wat vir hulle dierbaar is, soos die tempel, skielik bespot word. Ja, hulle sien selfs dat God se altaar besoedel word omdat onrein varke daarop geoffer word deur Antioges se mense. G’n wonder nie dat daar dikwels deur die loop van Daniël gepraat word van die gruwelike ding wat verwoesting aanrig in die heilige plek van God (7:25; 8:11-12; 11:31).

Daniël, geloofsheld en siener

Daniël self is die groot geloofsheld wat in ‘n vreemde land en onder ‘n vreemde koning se juk nie ‘n duimbreedte afwyk van sy geloof in God nie. Al moet hy dan ook ‘n nag tussen wilde leeus deurbring, dan doen hy dit ter wille van God (Dan 6). Ook sy drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednego, is nie bereid om voor koning Nebukadnesar se standbeeld te buig nie (Dan 3). Terselfdertyd beleef ons hoe die magtigste konings van die aarde, soos Nebukadnesar en Belsasar, voor God moet buig en deur Hom van hulle trone afgestoot word (4:34; 5:23).

Daniël kan drome en visioene uitlê. Nie alleen kan hy die konings se moeilike drome verklaar nie, maar hy kan ook die toekoms van die Joodse volk verklaar. In sy bekendste visioen in Daniël 2 sien hy ‘n reuse beeld van goud, silwer, koper en yster en klei, wat verwys na die verskillende ryke vanaf die tyd van die hoofkarakter Daniël tot en met die tyd van die skrywer in die tweede eeu voor Christus. Kortom, die skrywer van Daniël, wat teen die middel van die tweede eeu voor Christus leef, neem ons 450 jaar terug na die tyd van die Babiloniese Ryk (goud), en dié van die Perse (silwer). Daarna neem die visioen ons vorentoe na die tyd van Aleksander die Grote (die koper deel van die beeld). Laastens in Daniël se visioen tref ons die Grieks-Romeinse Ryk van Antioges IV aan (die yster en klei deel). Maar Daniël weet dat hierdie laaste ryk gaan verkrummel. Hy sien ‘n klip wat losbreek en hierdie magtige beeld in stukke laat breek. Vir die skrywer en eerste lesers is dit ‘n verwysing na die Makkabeërs wat ‘n einde gaan bring aan die verdrukking wat God se volk onder al die bose ryke moes deurstaan.

Daniël praat hoop se taal

Daniël is ‘n boek van hoop. Dit vertel vir mense wat swaarkry dat God aan die stuur is. Hy het die krag om in te gryp in sy mense se nood. Hy laat nie toe dat bose wêreldmagte ongehinderd voortgaan met hulle slegte planne nie. Vandag nog. God is steeds die almagtige Heerser van hemel en aarde wat magshebbers van hulle trone afstoot en sy mense red. Vandag nog is Hy op soek na moderne Daniëls wat onverskrokke in Hom glo. Hy is op soek na mense wat bereid is om selfs deur die vuur vir Hom te stap.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: