• deur Stephan Joubert

Obadja: Waar’s God wanneer almal wanhoop?


Daar’s min dinge so sleg soos wanneer jou bloedfamilie jou in die rug steek. Wel, dis presies hoe die mense gevoel het wat doer aan die einde van die sesde eeu voor Christus na Juda teruggekeer het. Hulle was die oorblywendes na die uitgerekte ballingskap wat in 587 voor Christus begin het toe die Babiloniërs Jerusalem vernietig het. Hierdie mense het beleef hoe hulle buurvolk, die Edomiete, wat aan die oostelike kant van die Dooie See gebly het, die verwoesting van Jerusalem luidkeels toejuig. Asof dit nie erg genoeg was nie, het hulle ook gehoor dat die Edomiete soos aasvoëls toegesak het op die mense wat in Juda agtergebly het. Links en regs is vlugtelinge aan die Babiloniërs uitgelewer en die Judeërs se grondgebied geplunder. Dit was onvergeeflik. Edom is immers sedert Esau se dae as Israel se bloedfamilie beskou (Gen 25:19-27:45).

Dis nag as jy oorbegin

Dit was ‘n stukkende groep Judeërs wat uit Babilon teruggekeer het na hulle grondgebied toe. Hulle moes van voor af begin. Hulle geliefde stad Jerusalem, saam met die pragtige tempel wat Salomo vir hulle gebou het, was gelyk met die grond. Baie van hulle volksgenote was dood en hulle land ‘n puinhoop. Tog was daar in hierdie tyd van bitterheid en hartseer ‘n vonkie van hoop te bespeur. Een so ‘n ligpunt was die optrede van Obadja. Ongelukkig weet ons nie veel meer van hierdie besielende profeet af as dit wat in sy kort profetiese boek opgeteken staan nie. Uit die inhoud van Obadja se profetiese woorde lyk dit of hy kort op die hakke van Jeremia en Esegiël opgetree het. Ons weet dat Jeremia na die vernietiging van Jerusalem in Juda agtergebly het. Later is hy weggevoer na Egipte toe waar hy tot aan die einde van sy lewe gebly het. Esegiël was egter nie so gelukkig nie. Hy is saam met die ballinge na Babilon toe weggevoer waar hy vir twee en twintig jaar as profeet opgetree het. Trouens, Esegiël se laaste profesie (Eseg 29:17) is gedurende die 27ste jaar van sy ballingskap (571 vC) gelewer. Obadja tree kort hierna op, iewers tussen die jare 550-500 voor Christus, wanneer die ballinge terugkom na hulle geboorteland toe.

Hoe gemaak as jou grondgebied nie meer joune is nie?

Wat ‘n skok was dit vir die Judeërs om te ontdek dat hulle geliefde land nou bewoon is deur groepe onbekende “buitelanders” wat intussen daar kom plak het. En om boonop te hoor en te sien wat hulle “broers”, die Edomiete, tydens hulle afwesigheid hier aangevang het. Maar hulle was te swak om iets hieraan te doen. Tog het Obadja ‘n trooswoord vir hulle gehad: God sal binnekort met Edom afreken (vers 2-9). Ja, natuurlik kon die mense van Juda net hulleself blameer vir die gemors waarin hulle hulself bevind het (vers 16). Dis hulle wat God se hand gelos het. Maar Obadja het hulle verseker dat God Edom sal terugkry. Ja, selfs al bou die Edomiete vir hulle skuilplekke hoog in die berge soos aasvoëls, sal God hulle daar gaan uithaal (vers 4).

Die Here sien raak wat mense doen

Wat het Edom gedoen waaroor die Here so kwaad was? Vers 10-15 bied die antwoord: Hulle het anderpad gekyk toe Juda weggevoer is (vers 10-11). Hulle het hulleself verlustig in Juda se swaarkry (vers 12-13). Boonop het hulle baie vlugtelinge en oorlewendes vermoor (vers 14). Daarom wag daar nou groot moeilikheid op die mense van Edom (vers 15). Trouens, die dag van die Here is net om die draai (vers 16-21). Dit sal ‘n dag van afrekening vir sy vyande wees. Maar vir die mense van Juda wat so swaargekry het, sal die dag van die Here herstel en vreugde bring. Sion sal weer die plek van redding word (vers 17). Die mense van Juda sal binnekort oor die Edomiete regeer (vers 21).

Obadja vertel vir vertrapte mense dat God steeds aan die stuur van sake is. Dis nie die verwaande Edomiete wat nou die kitaar slaan nie, maar God self. Hy laat nie toe dat mense sy Naam deur die modder sleep nie. Nog minder duld Hy hulle hoogmoed. Daarom sal Hy op sy eie maniere ingryp om die regverdiges te beskerm. Hieraan kan sy mense selfs in hul donkerste uur vashou. Daar’s altyd hoop, sê Obadja. Geen nag is ooit so donker dat God se lig dit nie in dag kan verander nie.

Ons raak soms moedeloos oor al die skelms en skurke rondom ons met wie dit voor die wind gaan. Maar ook vir ons wat wonder wanneer gaan God ingryp, bied Obadja die goeie nuus dat niks by Hom verbyglip nie. God sien alles raak. Boonop gee Hy nie parool aan sondaars nie. Hulle sal binnekort aan Hom moet verduidelik hoekom hulle sy goedheid onder hulle voete vertrap. Die dag van die Here gaan geen maklike dag vir sy vyande wees nie. Allermins. Intussen moet ons ons hoop-visier instel op die lewende God. Hy is die Een wat selfs in die grootste donker sy lig laat skyn!


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: