• deur Siegfried Louw

“Tjips!”


Het jy al gehoor hoe skerp ʼn Niknaks pakkie kan raas? Ek het uitgevind dit raas die meeste wanneer iemand anders as jyself daarvan eet.

Net buite die deure van die hospitaalteater sit ek met skrefiesoë en vul blokkiesraaisels op my foon in. Skrefiesoë, want die neonligte skyn van die wit plafon én die blink vloere af. Steriele trollies klak-klak onverpoos by my verby terwyl ek kort-kort na die deure loer. My mens moes al lankal uitgekom het.

Terwyl ek myself verwens omdat ek een of ander papegaai se naam nie kan onthou nie, gewaar ek die man vir die eerste keer. Hy gaan leun met sy rug teen die muur en buig sy een been, sodat hy homself met sy voet teen die muur stut. Ek sny die informasie af en papegaai verder.

Die muur-man se vingers kry sy pakkie Niknaks beet en hy pluk dit oop. Dis asof die blink binnekant van die plastiekpakkie ʼn komplot saam met die neonligte gesmee het om my aandag te eis. Ek dwing my aandag terug na die blokraai, want die teaterdeure is steeds toe. Dis toe dat die man sy tjips begin eet. Hy hap hulle begeesterd en suig sy oranje besmeerde vingers al klappende na elke handvol. Ek pos maar die papegaaie terug terug na die Amazone-kom en bêre my foon. Geïrriteerd verwens ek die Niknaks-man wat my pogings om uit die hier en nou te ontsnap, kom kelder.

Per ongeluk maak ons oogkontak. Ek besef hy het daarvoor gewag. Ek byt vinnig op my tande en forseer ʼn glimlag uit, voor ek weer my foon gryp. Gretiglik kom sit hy reg voor my. Sy breë glimlag wag vir my om te kyk en hy wen. Dan sien ek vir die eerste keer hoe vlak die spanning in sy eie oë sit. Hy wag vir sy vrou wat ʼn miskraam gehad het. Noodoperasie. Ordentlik vra hy my uit oor wat ek by die teater kom sit en doen.

Die deure vlieg oop en ʼn bed word uitgestoot. Dis sy vrou. Hy skud my hand, glimlag breed en trane in die oë. “Thank you for the talk! I will see you in the ward!”

“What is your name?” vra ek.

“Mohammed,” waai hy met sy een hand, terwyl sy ander hand sy vrou sʼn vind.

Meteens is dit weer net ek en die ligte en die trollies. My lus vir die blokkiesraaisel is weg. Al wat ek het, is die ervaring van wag. Ek onthou hoe my skoolvriende in die gange kywie gehou het as die juffrou uit was. “Tjips! Tjips!” het hulle geroep as sy op pad terug was. Dit het ons gewaarsku om gou by jou bank uit te kom en te doen wat jy moet.

Hierdie is die dag toe ʼn vriendelike vreemdeling onwetend vir my “tjips!” geroep het. Al was ek so onwillig om te gesels soos Jona voor sy vis-uitstappie, was daar ʼn oomblik toe twee onbekendes die broosheid van die lewe met mekaar kon deel.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: