ʼn Koning, ʼn paal en ʼn slang
- Liezel Lüneburg
- Oct 9, 2018
- 1 min read

Tussen Horberg en die Rietsee. In die huilende woestyn. Staan ’n paal. Troon verhewe bo die sandveld uit. Wieg liggies in die bries. Om die boom hurk mense – eintlik reeds verdoem. Buk laag voor die boom. Kyk met ontsag op na die koper serpent aan die paal wat so sonder protes genade uitdeel aan dié wat daarvoor vra.
Net buite Jerusalem. Daar by die benoude plek wat Kopbeen genoem word. Staan ’n paal. Styg majestueus bo die klipskedel uit. Te swaar om te wieg in die karige bries. Aan die boom hang ’n man. Arms wyd oopgestrek en vasgespyker aan die dwarsbalk. Verneder en pynlik. Vervloek. Mensalleen. Godverlate. Dors. In asemnood. “My God, my God, waarom het U my verlaat?,” skreeu Hy bedroef.
Om die kruis staan agies rond. Ongevoelig vir die stukkende rug en die verwonde skedel. Vir die spykers in die handpalms en die vernielde lyf. Onbewus van die profesie en die merkwaardigheid van die geskiedkundige oomblik. Doof vir die kreun en verdoeselde snik. Onverskillig.
En ek. Ek. Ek kan nie anders as om laag te buig. Hier op die mat in my binnekamer. Twee millennia later. En met ontsag te dink aan die Christus-woorde in Johannes 3:
“Soos Moses destyds in die woestyn die slang hoog bo-op ’n houtpaal gesit het, so moet die Seun van die mens ook hoog teen ’n kruis opgelig word, sodat elkeen wat Hom gelowig aanvaar en vertrou, vir ewig en altyd kan leef.”
Comments