• deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief September 2018


Die karakter van Kerkleiers

Karakter is belangrik. Herhaaldelik sien ons kerkleiers wat eties en moreel val. Ons sien hul bediening gaan progressief agteruit. In 1 Timoteus 3:1 – 7 lees ons van Paulus se kwalifikasies vir kerkleiers.

Dit is ‘n waar woord; as iemand graag ‘n ouderling wil wees, begeer hy ‘n voortreflike werk (1 Timoteus 3:1). Daarna sê hy: ‘n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig, hy moenie aan drank verslaaf of ‘n rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie. Hy moet sy huisgesin goed kan beheer en in alle opsigte op waardige wyse gesag oor sy kinders kan uitoefen. Immers as iemand nie weet om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente op hom neem? Hy moet ook nie iemand wees wat eers onlangs tot geloof gekom het nie. So iemand kan verwaand word, en in die oordeel kom waarin die duiwel hom laat beland. Ook by die mense buite die gemeente moet hy as ‘n goeie man bekend staan sodat daar nie praatjies oor hom ontstaan en hy in die strik van die duiwel val nie.

Hoe moet ons hierdie lys toepas. Ons moenie dit as ‘n kontrolelys sien nie Ons kry 14 spesifieke kwalifikasies in die lys. As ons dit as ‘n kontrolelys gebruik, gee ons ‘n wettiese interpretasie wat teenstrydig is met die hart van die teks.

Die waarskuwings oor die huwelik en ouerskap diskwalifiseer nie ongetroude mans van die bediening nie. Beteken trou aan sy vrou outomaties dat geskeide mans nie kwalifiseer vir die bediening nie? In Paulus se dag sou dit wel poligamie gediskwalifiseer het. Dit beklemtoon ook trou in die huwelik.

Uit die teks is daar ‘n paar dinge wat duidelik is:

1. God kyk na die hart

God bevestig hierdie waarheid aan Samuel toe Hy Dawid as Saul se opvolger aangewys het. Woorde soos onberispelik, nugter, verstandig, bekwaam en nie geldgierig nie beklemtoon God se verwagting dat leiers rein van hart moet wees.

2. Gesinsake

Leiers moet ‘n model van ‘n geestelik gesonde familielewe wees. Trou aan sy vrou, hy moet sy huisgesin goed kan beheer, op waardige wyse gesag oor sy kinders kan uitoefen, beskryf God se verwagting. Die leier wat ‘n getroue en toegewyde eggenoot is en sy huisgesin beheer, illustreer die trou van Christus en God as ‘n Vader. Leiers moet Jesus volg, hulle gesinne lei en daarna vir hulle gemeente sorg.

3. Ander kom eerste

‘n Leier is nie selfgesentreerd nie. Paulus weerspieël hierdie idee met die volgende kwalifikasies: gasvry, bekwaam om te onderrig, nie ‘n rusiemaker, maar inskiklik, ‘n vredemaker en ook aan die mense buite die gemeente moet hy as ‘n goeie man bekend staan. Hierdie is die eienskappe van iemand wat eerste vir ander omgee. Ons bedien vir God se heerlikheid en vir die geestelike voordeel van ander. God se roeping is vir ons, maar nie oor ons nie.

4. Jaag aanspreeklikheid na

Leiers wat geïsoleer is, kan val. Paulus herinner ons dat ‘n leier moenie aan drank verslaaf wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie. Hy moet ook nie iemand wees wat maar onlangs tot geloof gekom het nie. So iemand kan verwaand word en in die oordeel kom waarin die duiwel hom laat beland. Wie ken jou werklik? Aan wie is jy aanspreeklik vir die toestand van jou hart. Laat jy iemand toe om die waarheid en oortuiging in jou lewe te praat. Indien nie, moet jy bid vir en aanspreeklikheid met iemand anders najaag. ‘n Getroue aanspreeklikheidsvennoot wat jou sondes sal uitwys en jou sal red as jy val, is noodsaaklik.

Leef die evangelie

Nie een van ons is volmaak nie. As hierdie eienskappe ‘n lig in ons harte sal skyn, sal ons ver tekortskiet. Ons geregtigheid kwalifiseer ons nie vir die bediening van die evangelie nie. Ons bediening is afhanklik op die roeping van ‘n genadige God en nie van ons eie heiligheid nie.

  • Ons moet gedurig oor hierdie Skrifgedeelte nadink.

  • Ons moet daagliks ons tekortkominge bevestig.

  • Ons moet aanspreeklikheid najaag, want ons het dit nodig.

  • Ons moet gedurig die evangelie aan onsself verkondig:

  • Ons moet onthou dat ons nie goed genoeg is om leiers te wees nie. Daar is net Een wat is.

  • Ons moet onthou dat dit nie ons kwalifikasies is wat ons roeping bepaal nie. Ons bediening berus op Hom wat ons geroep het.

  • Ons moet onthou dat ons pastorale doeltreffendheid min te doen het met ons gehoorsaamheid, maar het eerder te doen met Hom wat vir ons die evangelie gegee het.

Karakter is belangrik. Ons moet dit najaag. Maar boweal moet ons dankbaar wees vir die volmaakte karakter van Jesus Christus wat ons vir hierdie eerbare taak geroep het.

Kan ek die Bybel vertrou?

Een van die vrae wat jong gelowiges soms vra, is; kan ek die Bybel vertrou? Ek weet nie veel van die skrywers behalwe hulle name en beroepe nie. Kan ek hulle vertrou al weet ek so min van hulle en hoe weet ek daar is nie die afgelope 2000 jaar met die manuskripte gepeuter nie?. Daar is goeie redes om die Bybelse geskrifte te vertrou.

1. Die manuskripte is betroubaar oorgedra van die skrywers tot by ons.

Daar is baie kopieë van die Bybel wat kruisverwysing vir afwykings maklik maak. Daar is ongeveer 24 000 manuskripte. Sommige se oorsprong was reeds in die tweede eeu na Christus. Dit is meer kopieë as van enige ander antieke dokument. Dit bevestig dat die onderrig in die teks dieselfde is as toe dit oorspronklik geskryf is. Ons kan seker wees dat wat die skrywers 2 000 jaar gelede geskryf het steeds dieselfde is as die teks wat ons vandag het.

2. Het ons ‘n rede om die skrywers te wantrou?

Jim Warner Wallace (Cold-Case Christianity) ’n speurder wat manslag sake ondersoek het, sê dat vier sake ondersoek moet word voor jy die getuienis van ‘n ooggetuie kan vertrou:

  • Was hy teenwoordig;

  • Is daar bykomende getuienis vir sy aansprake;

  • Het hulle ‘n motief om te jok?

Drie motiewe veroorsaak dat speurders ooggetuies wantrou:

  • Mag;

  • Wellus; en

  • Hebsug.

Daar is geen bewyse dat die skrywers van die Bybelboeke sulke motiewe gehad het nie. Hulle het alles gehad om te verloor en niks te wen deur hulle getuienis te lewer nie. Hulle was betroubare getuies: Hulle was teenwoordig by die gebeure; hulle was akkuraat in hulle verslagdoening in betekenisvolle en selfs in oënskynlike onbelangrike besonderhede en daar was ander getuienis wat hulle eie getuienis ondersteun het.

Volgens die getuienis wat vandag tot ons beskikking is, het meeste van die skrywers van die Nuwe Testamentiese boeke ‘n gewelddadige dood gesterf en dit vir hulle getuienis dat Jesus aan die kruis gesterf het en weer opgestaan het en dat Hy lewe. Hulle het geweet dat hierdie storie van Jesus wat gesterf en opgestaan het, sou lei tot hulle lyding en selfs hulle dood.

Hulle sou nie hierdie storie versprei het toe die vervolging begin het nie, tensy die storie waar was.

3. Hierdie boeke van ons Bybel is die boeke wat die vroeë Christene as waar aanvaar het.

Ons hoor baie stories oor hoe die boeke van die Bybel versamel is en ons hoor van “verlore” evangelies. Ons moet teruggaan na wat die vroeë Christene oorgedra het en aangehaal het as die woord van God. Al het ons nie die oorblywende kopieë van die teks wat ons vandag het nie, kry ons baie aanhalings in die skrywes van die vroeë Kerkvaders. Dan Wallace (Reinventing Jesus) sê daar is meer as ‘n miljoen aanhalings uit hulle gesamentlike werke.

Teen 115 n.C. het Ignatius, die Biskop van Antiogië, die vier evangelies as outentiek aanvaar. F.F. Bruce, bekende Nuwe Testamentiese navorser, sê dat die vasstelling van die kanon in werklikheid ‘n bevestiging was van die tekste wat die vroeë kerk reeds as gesagvol gebruik het.

Die sinodes wat die kanonieke boeke geklassifiseer het – die sinodes by Hippo Regius in 393 en by Kartago in 397 - het nie iets nuut op die kerk afgedwing nie, maar het slegs dit wat reeds die algemene praktyk was gekodifiseer. Teen ongeveer 140 n.C. het Marcion sy eie kanon saamgestel. Die vroeë kerkvaders soos Iraneus het dit onmiddellik verwerp. Toe reeds het die kerk die bepaling van die kanon hanteer. Daarmee is die beskikbare tekste aan intensiewe studie onderwerp.

Christene het aan die voorpunt van hierdie kritiek gestaan om seker te maak dat dit die waarheid is. Dit het gebeur in oorleg met Paulus se opdrag in 1 Tessalonisense 5:21: Maar toets dit alles, behou wat goed is en bly weg van alles wat sleg is.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: