top of page

My tong: ‘n Gevaarlike wapen

  • Alet Gardner
  • Sep 20, 2018
  • 2 min read

Ek gebruik graag die Eenjaarbybel in my stiltetyd, en is nou die dag herinner aan die belangrikheid daarvan om dit vir ander moontlik te maak om te lewe met ‘n ligte, vreugdevolle hart en ‘n gevoel van eiewaarde. Daarom maak dit toe baie sin dat Salomo se spreuk vir die dag was dat ek my mond en tong in toom sal hou. En dit kon ek in die lig sien van Paulus se skrywe oor die belangrikheid van die liefde, agape-liefde, Jesus-liefde wat die beste vir ander soek.

Dis byvoorbeeld nie so moeilik om vir my volwasse kind wat aan homself twyfel, net weereens te herinner nie: “Toe die Here jou gemaak het, het Hy voorwaar iets baie spesiaals gemaak. Ek is trots op jou, op die mens wat jy is!”

Die probleem is egter dat my stryd in my gedagtewêreld lê, in my “hart” waar daar bittere naywer en selfsug is. As ek nie waaksaam is nie, kan hierdie toksiese gedagtes groei en uitloop op bitter, bitsige, aanvallende of afbrekende woorde. So word my tong daardie gevaarlike wapen waarteen Salomo en ook Jakobus waarsku. ‘n Wapen waarmee ek vir my dierbares (en minder dierbares) wonde kan toedien wat dalk jare kan neem om te genees.

Ek vind self dat, as ek fokus op iemand se foute en tekortkominge, ek gans te maklik ‘n kortaf, afbrekende opmerking maak – dalk heeltemal binne beskaafde perke, maar met ‘n angeltjie wat onnodiglik seermaak.

Hoe wonderlik sal dit nie wees as die basis van saamleef in my huwelik, gesin, familie, werk en selfs die gemeenskap waarin ek my bevind op die basis van daardie 1 Korintiërs 13 liefde funksioneer nie. Hoe wonderlik sal dit nie wees as geduld en vriendelikheid die basis van ons verhouding kan wees nie, eerder as jaloesie, verwaandheid, selfsug of liggeraaktheid.

Hiervoor is dit egter nodig dat ek daagliks die beheer oor my hart, my gedagtes en so ook my tong gereeld aan die Gees van Christus oorgee deur middel van selfs net ‘n eenvoudige gebed.

Dan kan my woorde ander opbou en selfs brûe bou oor afgronde van onmin en rusies. En die Here, wat nie rekord hou van sy kinders se oortredings nie, sal my help om ander lief te hê soos wat Hy my liefhet, om ander op te bou en te bemoedig eerder as om te verwond en af te breek.

I am horrible. So … we all are. It’s God’s grace that is there to help me manage my horribleness. When I fail or choose not to draw upon that grace, then exchanges such as we experienced take place. Such experiences create atmospheres and reinforce existing glass walls. - Micha Jazz, ná ‘n uitval met sy ma.


 
 
 

Comments


bottom of page