top of page

Jy is meer as jou jongste mislukking

Stephan Joubert

Jy’s nie so sleg soos jou laaste flop nie. Die lewe het egter ’n manier om presies dit vir jou te leer. Jou laaste wedstryd, praatjie, lesing, verslag of prestasie bepaal hoe goed jy is in ander se oë. God doen nooit dieselfde met jou nie, al dink baie mense so. Jou laaste sonde bepaal volgens hulle of God van jou hou, of nie. Van sonde tot sonde wissel God se emosies blykbaar oor ons. Sulke sienings maak van sonde net ’n klompie verkeerde dade aan die hand waarvan God ons gedurig evalueer en wat sy gevoelens teenoor ons bepaal. Feit: sonde is eerstens die breek van ’n verhouding, nie die doen van verkeerde dinge nie. God het juis vir Jesus gestuur om hierdie verhouding tussen ons en Hom vir altyd te herstel. Jesus is die padbouer tussen hemel en aarde. Sy eie lyf is die brug Godwaarts en terug. Jesus het die verhouding met God al die pad herstel. Geloof laat ons hierin deel. God ken ons nie meer daad vir daad nie. Hy dink gladnie aan ons by wyse van ons jongste oortredings nie. Hy het ons lief ten spyte van ons oortredings. Nee, Hy wil nie hê ons moet verkeerd doen nie. Hy het juis sy Gees gegee om ons op koers te hou. Maar Hy het ons sonder voorwaardes lief.


bottom of page