• deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief Aug 2018 Deel 2


Hoe nader ek tot God?

Die eis vir politieke korrektheid neem toe. Dit word van ons verwag om voortdurend by die veranderende sensitiwiteite van ons kultuur aan te pas. Een van die onderwerpe onder bespreking is hoe om God te nader. Mense glo vandag dat alle paaie en metodes wettig is, want almal lei na God.

Hierdie is nie net ‘n teoretiese saak nie, maar dit het ewigheidsimplikasies. Niemand van ons wil eendag voor God staan en hoor: Ek het julle nooit geken nie (Matteus 7:23). In ‘n gelykenis sê Jesus dat daar twee maniere is om Hom te nader – die een lei na aanvaarding en die ander na verwerping. Die gelykenis gaan oor twee mense wat na die tempel gaan om te bid (Lukas 18:9 – 14).

1. Diegene wat op hulleself en hulle geregtigheid vertrou.

Die eerste man was ‘n Fariseër, ‘n godsdienstige sekte wat op die onderhouding van die wet gefokus het. Hulle was in die gemeenskap gerespekteer as gevolg van hulle geregtigheid en hulle gehoorsaamheid aan die wet en die tradisies.

Die Fariseër nader tot God met trots. Jesus stel dit so: die Fariseër het gaan staan en by himself so gebid. Alhoewel hy na God se tempel gekom het om te bid, bid hy in werklikheid tot homself. Dit is die primêre kenmerk van ‘n trotse man – selfgesentreerd. Hy sien geen nodigheid vir genade nie. In plaas van ‘n versoek tot God rig, noem hy ‘n lys van sondes wat hy vermy het en goeie dade wat hy gedoen het. Hy sê: Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van my hele inkomste.

Hy het gekom om te bid, nie omdat hy God se hulp nodig gehad nie, maar om God se goedkeuring te kry. Daarom staan hy vol selfvertroue en kyk op na die hemel. Jesus het hierdie selfbevorderende gedrag in die bergrede veroordeel: As julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoge en op die straathoeke te staan en te bid, sodat die mense hulle kan sien. Hulle het hulle beloning klaar weg (Matteus 6:5).

Ons sien vandag wel nie hierdie openbare vertonings nie, maar daar is steeds baie mense wat glo hulle het geen behoefte aan God nie. Hulle beskou hulleself as goed as hulle hulle vergelyk met bekende kriminele mense en sien geen rede waarom God hulle nie in die hemel moet ontvang nie. Sulke selfstandigheid maak die kruis van Jesus Christus nutteloos. Hoekom sou God sy Seun stuur om vir sondige mense te sterf as hulle in staat is om sy guns te verdien. Sulke trots en selfverheerliking sal nooit vir God aanvaarbaar wees nie. Sy standaard is volmaakte sondeloosheid – iets wat geen mens kan bereik nie. Daarom het ons almal ‘n Verlosser nodig.

2. Diegene wat God met berou nader

Die ander man was ‘n tollenaar wat vir die Romeinse regering gewerk het. Die Jode het geglo dat tollenaars verraaiers was – oneerlike swendelaars. Hulle het mense uitgebuit om hulleself te verryk. Hulle is op dieselfde vlak as sondaars en prostitute gesien. As gevolg van hulle beroep is hulle as onrein gesien.

Die tollenaar bly daar ver staan – uit die openbare oog. Hy wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, want hy was bewus van sy sonde. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my. arme sondaar, genadig.’ Sy nederige gebed was al wat vereis word vir verlossing. Jesus se reaksie was: Hierdie man en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is.

Trotse mense besef nie dat hulle genade nodig het nie, want hulle glo nie dat hulle iets gedoen het wat genade benodig nie. Hulle sal nie na Christus kom voordat hulle trots verbreek is nie en hulle uiteindelik hulle hopelose situasie raaksien nie. Niemand word ooit gered as hy nie eers oortuig van sy sonde word nie. ‘n Selfgeregtigde persoon sien himself nie as ‘n sondaar nie en daarom het hy nie God se verlossing nodig nie

In baie kerke vandag word mense vertel dat Jesus hulle sal vergewe as hulle hulle Hom vra. Jy kan nie net Jesus by jou ou lewe voeg nie sonder om weg te draai van daardie lewe nie. Jy het ‘n nuwe lewe nodig en dit begin as die Gees jou van jou sonde oortuig. Dan voel jy die gewig van jou skuld en jou behoefte aan God se genade.

Het jy al op hierdie manier na Christus toe gekom? Alles wat nodig is vir jou verlossing is reeds deur JESUS Christus se offer voorsien Hy het die straf vir ons sondes gedra sodat God aan ons genade kan bewys. As jy jou behoefte besef het, roep na Hom. Hy aanvaar almal wat nederig vra vir sy genade deur sy Seun.

[hierdie gedeelte kom uit ‘n blog an Dr Charles Stanley.]

Hoe lees ek Bybel?

Ons kyk na ‘n antieke dog groeiende praktyk van aanbidding – lectio divina. Dit sluit vier fases in: Lectio, meditatio, oratio en contemplatio. Charles Stone kom nou met sy eie akroniem na vore wat hierdie vier begrippe insluit: RIPE – Read, Immerse, Pray, en Execute. Dit help baie om jou vars insigte in ‘n joernaal aan te teken.

Soek ‘n Skrifgedeelte van ‘n redelike lengte (12 tot 20 verse) en lees dit vier keer deur. Elke keer pas jy ‘n fase van RIPE toe.

R= Read. Lees die gedeelte stadig deur.

Saggies, maar ook hardop. Lees dit eerstens uit die hoek van ‘n kind wat niks van die kulturele en teologiese onderbou van die gedeelte weet nie. Daarna bring jy die kulturele en teologiese onderbou wat jy reeds het, in. Hierdie oefening behoort 2 – 3 minute te neem.

I = Immerse (meditasie).

Dink na oor die gedeelte. Verbeel jou dat jy een van die eerste hoorders van die gedeelte is- jy is fisies teenwoordig toe hierdie gedeelte gepraat of geskryf of gelees is vir die eerste keer. Probeer die konteks herskep. Gaan die hoorder se wêreld binne. Hierdie oefening behoort 2 - minute te neem.

P = Pray. Bid.

Verpersoonlik die gedeelte vir jouself. Laat die Here toe om jou hart te leer terwyl jy daaroor nadink. Vra die Here wat Hy in jou wil stop, begin, verander, ontwikkel of groei. Hierdie oefening behoort 2 – 3 minute te neem

E = Uitvoering.

As jy nou die gedeelte vir die vierde en laaste keer lees, vra jouself af wat jy geleer het terwyl jy oor die gedeelte nagedink en geleer het. Wat dink jy wil God hê dat jy moet doen? Belowe die Here dat jy vandag sal begin om dit te doen wat Hy van jou verwag. Skryf neer wat jy sal doen. Wees spesifiek. Hierdie oefening behoort 2 – 3 minute te neem.

Lidmaatskap van die kerk - landmyne

Baie kerke het lidmate op hulle registers wat nooit ‘n erediens bywoon nie. Mense raak baie ontsteld as die leierskap prober om hierdie registers te suiwer. Voor jy probeer om veranderinge aan lidmaatskap aan te bring, moet jy leer uit die foute wat ander gemaak het en hierdie paar landmyne vermy:

1. Misverstande

Mense in die kerk verstaan dikwels nie wat dit beteken om lidmaat van die liggaam van gelowiges te wees nie. Baie glo selfs dat hulle verlossing die gevolg is van hulle lidmaatskap van ‘n kerk. Daarom moet jy begin deur die gemeente te lei deur die voorregte en verantwoordelikhede van ‘n lidmaat van die geloofsliggaam van Christus te bevestig. Jy moet eers ‘n teologiese fondament bou voor jy enige praktiese stappe kan neem.

2. Gesag

Die begeerte om die lidmaatskap ven die gemeente te verander is een ding; die vermoë om dit te kan verander is iets anders. Mense wat die posisionele gesag het, mag dalk nie die praktiese gesag hê nie. Invloedryke lidmate kan kerkleiers ondergrawe. Jy moet dus eers die gemeente se formele en informele leierskap bymekaarkry, voor jy enige verandering oorweeg.

3. Proses

Ontwikkel ‘n proses oor hoe jy gaan bepaal wie aktiewe lidmate is, en wat gebeur met die name wat van die register verwyder gaan word? Hoe gaan jy in die toekoms betrokkenheid aanmoedig? Dink vooraf aan alle moontlike besware wat geopper mag word en dink aan hoe jy hulle gaan beantwoord.

4. Familie

Onaktiewe lede mag familie van aktiewe lede wees. Hierdie gesprek gaan oor meer as net teologie. Vir sommige gaan dit oor ‘n verbintenis met iemand vir wie hulle lief is.

5. Nostalgie

Dit mag wees dat dit die plek is waar hulle aangeneem is of hulle hulle eggenote ontmoet het. Vir een of ander rede het die kerk ‘n sentimentele plek in hulle hart. Herinner hulle daaraan dat hulle steeds die kerk kan besoek, maar hulle moet aktief wees in die gemeente as hulle lidmate wil wees. Hulle moet betrokke wees.

6. Bewoording

As jy besluit om onaktiewe lidmate in kennis te stel dat hulle name nie meer in die registers sal verskyn nie, moet jy baie versigtig wees met jou woordgebruik. Laat baie mense dit lees, dink daaroor en bid daaroor voordat jy dit aanvaar. Sommige sal beledig voel en die besluit kritiseer. Enige gedeelte wat swak bewoord is, sal hulle aangryp. Hulle sal sê die kerk is gierig, wetties en sonder deernis.

7. Sosiale media

die hele saak kan in ‘n media-sirkus ontaard as jy nie versigtig is nie. Indien enigsins moontlik moet jy van aangesig tot aangesig met elke persoon praat. Briewe of e-posse sal nie werk nie.

Gemeentes moet God se leierskap in verband met lidmaatskap volg. Dit moet nooit lyk asof dit ‘n optrede is wat jy self uitgedink het nie. Kerke moet aktiewe lidmaatskap prioritiseer. Soms beteken dit dat jy name van die register moet verwyder. Dit is nooit ‘n gewilde besluit nie. As jy voorberei moet jy die landmyne vermy.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: