• deur Siegfried Louw

Kleipotte


“Die tyd het aangebreek dat ons ons kinders moet vertel,” sê hy. Hy druk haar hand stywer vas. “Tot hier toe het ons hulle probeer beskerm. Maar nou het ons nie meer ʼn keuse nie.” Sy staar lank en uitdrukkingloos na die plafon. Uiteindelik maak sy weer oogkontak. “Ek wil hê my kinders moet weet ek het alles probeer. Ek het aangehou veg. Vir hulle.”

Wanneer jy verbete veg om te bly leef, gooi jy jou aanvaller met enigiets waarop jy jou hande kan lê. Potte en panne. Die dokters het alles uitgehaal wat hulle het. En die heel laaste poging het geen impak op die gewas gehad nie.

Weldra skraap sy genoeg krag bymekaar om verder te praat. “Ek sal nooit my dogter se matriekafskeid sien nie. Nie by haar troue wees nie. My enigste droom was om daar te kon wees vir hulle. En nou… nou weet ek nie hoe om te bid nie. Ek weet nie hoe om te glo nie.” Sy kyk vir haar man om te sien of hy skrik vir haar woorde. Hy hou sy kop met beide hande vas. “Jy was daar vir my toe ek teen God rebelleer het. Jy het aangehou om vir my te bid. Vandag is dit my beurt om namens jou te glo.”

“Ek is bang ek gaan nie weer glo nie. En dat God my gaan los,” prewel sy. Angstig verduidelik haar man: “Mense sê ons moet versigtig wees met ons woorde. Ons moet lewe spreek.”

Maar dit is nie hoe God werk nie. ʼn Liefdevolle Pa ignoreer nie sy kinders as hulle woorde verkeerd sê nie. Daarom gesels ons oor eerlike gesprek met God. En om te sê dat jy Jesus vertrou, in lewe én in sterwe, is geloof. Wanneer jy wanhopig voel oor die nuus wat jy gekry het, is dit ook eerlik om dit vir God te sê.

ʼn Suster kom in en loer na die drup en haar bloeddruk, onbewus van die gewigtige gesprek in die vertrek. Wanneer sy uit is, praat die ma verder. “Ek wil nie ʼn las wees vir my man nie.” Geskok protesteer hy. Maar sy hou vol. Dis onbillik om al hierdie laste op hom te plaas.

“En wat, dink jy, sou jy vir hom gesê het as julle rolle omgeruil was?” Haar eerste flou glimlag breek deur wanneer sy antwoord: “Seker maar dieselfde.”

Hulle hande vind mekaar sʼn. Sy kyk hom in die oë. “As die Here hierdie siekte oor my pad gebring het net sodat jy nader aan Hom kon kom, is dit vir my genoeg.”

Ek wil ook hierop protesteer. Maar ek kry dit nie reg nie. Want ek bevind my op heilige grond. Sy dra haar man. Hy dra vir haar. Hulle opregte liefde was my eie gemoed skoon. Ek onthou die woorde van 1 Kor. 13:13: “Geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!”. En ook aan 2 Kor. 4:7: Ons is maar kleipotte wat maklik breek; die krag kom van God.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: