• deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief Junie 2018 Deel 1


Die verskil tussen omkeerbare en onomkeerbare besluite

Ons glo dat ons so veel inligting as moontlik bymekaar moet maak, want dit sal ons help om die beste besluite te neem. Soms is dit waar, maar soms belemmer dit net ons vooruitgang. Soms is dit selfs gevaarlik. Baie van die suksesvolste mense gebruik eenvoudige, veelsydige en ontdekkende besluitnemings praktyke wat die noodsaak vir raadpleging in sekere situasies wegneem. Hier is ‘n paar voorbeelde, Steve Jobs se standaardantwoord was eenvoudig “Nee.” Warren Buffett sê nee vir enige besluit wat ‘n rekenaar of selfs sakrekenaar benodig. Dit mag ook beteken beredenering vanuit eerste beginsels soos Elon Musk doen. Jeff Bezos, die stigter van Amazon vra vir homself: Is dit ‘n omkeerbare of onomkeerbare besluit?

As die besluit omkeerbaar is, kan ons ‘n vinnige besluit sonder volmaakte inligting neem. As die besluit onomkeerbaar is, moet ons die proses verstadig, want ons moet seker maak dat ons voldoende inligting het en dat ons die probleem so deeglik as moontlik verstaan.

Hy het hierdie proses gebruik met die stigting van Amazon. Hy het geweet as Amazon sou misluk hy steeds sy ou werk sou hê. Omkeerbare besluite kan vinnig geneem word sonder om eers alle beskikbare inligting te kry. Ons moet egter bereid wees om te leer uit die ondervinding as dit sou misluk. Soms is dit nie die tyd en energie werd om meer inligting bymekaar te maak op soek na ‘n beter antwoord nie. Jou navorsing mag beteken dat jou besluit 5% beter is, maar jy het ‘n geleentheid laat verbygaan.

Omkeerbare besluite is nie ‘n verskoning om roekeloos op te tree nie. Dit is die oortuiging dat ons ons proses van besluitneming moet aanpas by die tipe besluit wat geneem moet word. Ons hoef nie alle besluite op dieselfde manier te neem nie. Die vermoë om vinnige besluite te neem, het sekere voordele. Daar is ‘n verskil tussen “velocity” en “speed”. “Speed” meet afstand oor tyd. Ons kan met baie spoed beweeg sonder om iewers te kom. “Velocity” beteken jy beweeg na jou doelwitte.

Met oefening word ons beter om slegte besluite te herken. On sien ook nie meer foute of klein mislukkings as rampspoedig nie, ons sien dit as inligting wat ons sal help met besluitneming in die toekoms.

“A good plan, violently executed now, is better than a perfect plan next week.” — Generaal George Patton

Bezos vergelyk besluite met deure: omkeerbare besluite is deure wat na albei kante oopgaan. Onomkeerbare besluite is besluite wat deurgang in net een rigting toelaat – as jy deur is, kan jy nie weer terugkom nie. Meeste besluite is omkeerbaar alhoewel ons nooit die tyd en hulpbronne kan terugkry as dit misluk nie. Om deur ‘n deur te gaan wat na albei kante oopgemaak kan word, gee vir ons inligting – ons weet nou wat aan die anderkant van die deur is.

Bezos skryf:

Some decisions are consequential and irreversible or nearly irreversible – one-way doors – and these decisions must be made methodically, carefully, slowly, with great deliberation and consultation. If you walk through and don’t like what you see on the other side, you can’t get back to where you were before. We can call these Type 1 decisions. But most decisions aren’t like that – they are changeable, reversible – they’re two-way doors. If you’ve made a suboptimal Type 2 decision, you don’t have to live with the consequences for that long. You can reopen the door and go back through. Type 2 decisions can and should be made quickly by high judgment individuals or small groups.

Soos organisasies groter word, is daar ‘n neiging om meer en meer die Tipe 1 besluitnemingsproses te gebruik. Die gevolg is stadig besluitneming, ondeurdagte vermyding van risiko’s en gebrek aan eksperimentering en minder kreatiwiteit. Bezos glo fat 70% sekerheid die punt is waar dit toepaslik is om ‘n besluit te neem. Dit beteken jy moet besluit as jy 70% van die inligting beskikbaar het. Daarna kan jy koersaanpassings maak. Dit is doeltreffender as om te wag tot jy 90% van die inligting het.

Kenmerke van leiers

Daar is twee kenmerke wat uitstekende leiers deel:

1. Skep kultuur

Kultuur is wat ons skep of wat ons toelaat. As ons nie doelgerig ‘n dinamiese kultuur skep nie, sal ons kultuur sink tot die laagste denominator. Kultuur ontwikkel nie sommer of oornag nie. As besighede dit kan doen, behoort die kerk dit ook te kan doen,

Die kerk moenie op sy geskiedenis fokus nie, maar op sy bestemming. Kerkleiers moet die grootste visieskeppers op aarde wees. Maar ons laat toe dat sekulêre leiers (Elon Musk en Richard Branson as voorbeelde) groter drome droom as wat ons doen. Hulle ambisie vir ruimtereise is merkwaardig; ons ambisie om die wêreld met die evangelie te verander behoort merkwaardiger te wees. Mense word nie deur klein drome geraak nie Kerkleiers moet in die onmoontlike glo, want ons het ‘n God wat oneindig meer kan doen as waarin ons ons kan indink.

2. Persoonlike leierskapontwikkeling

Ons moet bereid wees om tyd, geld en energie te spandeer in ‘n gebied waar ons vasgehaak het. Ons moet tyd, geld en energie spandeer om beter leiers te word. ‘n Belegging in leierskapontwikkeling is tot voordeel van almal wat ons lei.

Wat lees ek tans?

Christian worldview – Philip Graham Ryken (2013)

Hierdie boek is deel van ‘n reeks: Reclaiming the Christian Intellectual Tradition.

Wat is ‘n wêreldsiening?

Almal het ‘n wêreldsiening – of ons dit nou weet of nie. Ons het almal ‘n fundamentele perspektief van die wêreld wat ons leefwyse bepaal. Hoe ander mense reageer openbaar hulle wêreldsiening.

Idees het gevolge. Selfs gewone interaksies weerspieël ons toewyding en oortuigings. Ons wêreldsiening kom uit wat ons dink en wat ons liefhet, sê en doen, loof en kies. Verskillende wêreldsienings het kultuurwye invloede, sommige van die belangrikste konflikte in vandag se samelewing kom uit die interseksies waar wêreldsienings bots.

Hierdie konflikte in wêreldsienings roep Christene op tot deurdagte kulturele betrokkenheid. In ‘n samelewing wat toenemend sekularisties is, vind Christene dikwels dat hulle idees aangeval word. Hoe kan ons ‘n Christelike perspektief op die sake van die dag hê. Dit word deur ons wêreldsiening bepaal. ‘n Christelike siening wat ons gedagtes vorm en ons begeertes, woorde en optrede motiveer.

Hoe definieer ons ‘n wêreldsiening: Dit is die denksisteem wat ons gebruik om te verstaan wat sin maak in ons wêreld. Dit is ons manier om na die lewe te kyk, ons interpretasie van die heelal, ons oriëntasie ten opsigte van die werklikheid. Dit is die omvattende raamwerk van ons basiese oortuigings oor dinge; die stel skarniere waarop al ons denke en doen skarnier.

Ideaal is dit ‘n beredeneerde raamwerk van oortuigings wat ons help om die groter prentjie te sien. Dit gee vir ons ‘n ware perspektief op die betekenis van die bestaan van die mens. Dit is die storie wat ons gebruik om vrae mee te beantwoord- vrae soos: Hoe het ons hier gekom en waarvoor is ons hier? Hoekom het dinge so skeefgeloop? Is daar hoop om die dinge weer reg te stel? Waar gaan alles eindig? Dikwels is daar ‘n verskil tussen ons wêreldsiening en hoe ons in werklikheid leef. Almal van ons het basiese oortuigings oor wie ons is, waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. Ons aanvaar ons wêreldsiening as ‘n gegewe en sien dit selde raak.

What you see and hear depends a good deal on where you are standing; it also depends om what sort of person you are (C. S. Lewis).

Ons gesinsagtergrond, lewensondervindings, ekonomiese omstandighede, opvoeding, kultuur konteks, nasionale erfenis, taalgemeenskap, fisiologiese eienskappe, sielkundige kenmerke en historiese situasie het almal ‘n invloed. Ons wêreldsiening is nie net private perspektiewe nie, maar is tipies in ooreenstemming met dié van ander mense,

Wêreldsienings is inherent godsdienstig. Ons wêreldsiening is die kern van wie ons is. Dit lê ons fundamentele oortuigings bloot insluitend wat ons glo of nie glo oor God nie. Daar is geen geestelike neutraliteit nie. Die mens as vrye skepsel rig sy lewe in volgens een of ander einde en lojaliteit die mens rig onvermydelik sy lewe in iets finaal; Dit is hoe hy is. Hy moedig jou aan om te eet en te drink, maar hy bedoel dit nie Spreuke 23:7. Alle mense aanbid. Die enigste vraag is wie of wat aanbid jy. Dit wat jy aanbid, behalwe God, sal jou lewendig opeet – geld, mag, besittings jou liggaam of jou skoonheid, seks, ens.

‘n Wêreldsiening kan nie tot ‘n stel rasionele stellings gereduseer word nie. Dit is ‘n saak van die hart en die verstand.

Die skeppingsmandaat

Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip (Genesis 1:28). Mense is aangewys om God se heerskappy op aarde te verteenwoordig. Alles behoort natuurlik nog aan Hom. Wat God besit het Hy in ons beskermende versorging geplaas. Die skeppingsleer roep ons op om die natuur te geniet, maar dit is ook die basis waarop ons die wêreld deur wetenskap kan ondersoek. God who founded everything in the world according to the norm of quantity and has endowed man with a mind which can comprehend these norms (Johannes Kepler).

Die mens het sy eie onafhanklikheid gesoek. En sy het van die vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee en hy het geëet (Genesis 3:6). Tot op hierdie stadium het die mens net die goeie geken; nou ken hy ook die bose. Die sondeval was ‘n werklike gebeurtenis. Hierdie sondeval het tragiese gevolge gehad, beginnende by skuldgevoelens. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3;23). Selfs mense met ‘n Christelike wêreldsiening is nie totaal immuun teen die gevolge van sonde nie.

‘n Onvoltooide taak

As ons weet wat die probleem is, help dit ons om die oplossing te kry. As ons oortuig is van ons sondige toestand roep ons vir hulp wat net God kan voorsien. Hierdie antwoord lê nie in ons nie. God moet kom en ons red. Dit is wat God doen. Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin (Handelinge 16:31).

Die verlossingswerk van Jesus verhoog ons perspektief en gee aan ons ‘n uitsigpunt vanwaar ons die wêreld in God se ware perspektief kan sien. Ek sien nou dinge soos ek hulle behoort te sien – vanuit God se perspektief. Die vorming van ‘n Christelike wêreldsiening is ‘n gawe van God se genade’. Ons sien die drie stadia van die verlossingsgeskiedenis gelyktydig: wat die wêreld gemaak is om te wees (skepping); wat van die wêreld geword het (as gevolg van sonde); wat dit mag word (deur God se genade). Hierdie multidimensionele perspektief verduidelik waarom die Christelike wêreldsiening te gelyktydig brutaal eerlik is oor die probleme van die lewe en hoopvol oor wat God gaan doen.

Die paradys voltooi

Sonde het nie die laaste woord nie, want ons leef in die hoop van ‘n heerlikheid wat sal kom. Ons leef in die alreeds en die “nog nie.” God het alreeds die verlossing in Christus bewerkstellig, maar het nog nie al die beloftes van sy komende koninkryk nagekom nie.

Die einde van die wêreld

Wat sê die Christelike wêreldsiening vir ons van die volmaakte wêreld wat op pad is? Hindoeïsme sê dat ons in ‘n ander lewensvorm gereïnkarneer word; panteïsme sê dat ons een met die heelal word; naturalisme sê dat ons nie meer bestaan nie. Hulle glo dus almal dat ons slegs vir die oomblik leef. Hulle gee geen aandag aan hulle ewige bestemming nie. Die Christelike wêreldsiening sê dat die dood nie die einde is nie. Ons huidige lewe het gevolge in die toekoms, Ons weet Jesus kom weer. Dit beteken die einde aan alle aardse bestaan. Die heelal sal eers vernietig word en dan herstel word. Jesus kom as die finale Regter. Alles wat verkeerd is, sal reggestel word. Almal sal voor Christus se regterstoel verskyn. Hierdie vooruitsig van oordeel gee betekenis aan alles wat ons sê en doen. God vervul sy belofte om alle dinge nuut te maak.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: