
Ek sit nou die dag in die fliekteater toe die voorprent van die nuwe Jurassic Park fliek getiteld Jurassic World: Fallen kingdom, op die skerm flits. Die voorprent herhaal toe ‘n frase wat tot dusvêr regdeur die Jurassic reeks gebruik is:
Life cannot be contained. Life breaks free. Life finds a way.
In hierdie reeks verwys die frase natuurlik na die geneigdheid van die natuurlewe om altyd te hunker na lewe, voortbestaan en evolusionêre vooruitgang. Dis byna asof die natuur oor ‘n wil beskik wat wíl lewe. Niks wil sterf nie. Geen gesonde dier gee homself sommer net oor aan die dood nie. Diere veg om lewe en dood wanneer gevaar dreig want hulle wil lewe en oorleef. Verder het spesies van diere en plante oor die jare die vermoë ontwikkel om aan te pas by hulle omgewings. Die doel is sodat hulle so lank as moontlik kan voortbestaan en oorleef. Dis asof die lewe altyd oënskynlik die begeerte toon om te wen of ten minste te wíl wen! Dis vanuit ‘n suiwer biologiese hoek natuurlik nie heeltemal so eenvoudig nie. Organismes sterf tog wel daagliks. Wetenskaplikes wys ons op hierdie misterieuse siklus in die natuur tussen dood en lewe. Dinge sterf en dinge leef en oorleef. Wat kom egter eerste? Die hoender of die eier? Of belangriker: watter een kom laaste? Wie gaan die laaste lag? Die dood of die lewe? Dis interessant dat die Jurassic reeks die klem so plaas op lewe. Dis asof die fliekvervaardigers en draaiboekskrywers tog die boodskap wil nalaat: Life cannot be contained. Life breaks free. Life finds a way. Dis asof hulle wou sê dis hoe die lewe bedoel is om te werk.
Jesus se opstanding funksioneer natuurlik as ‘n stuk openbaring vir waarom ons almal op die planeet (plante en diere ingesluit) so begeer om te leef en te oorleef. Volgens die Nuwe Testament het lewe inderdaad die laaste sê. Die lewe ís veronderstel om te wen! God hét die wêreld so aanmekaar gesit en Jesus kom openbaar dit:
Na die nag kom dag;
na die donkerte kom lig;
na die pyn kom genesing;
na die siekte kom heling;
na die ontnugtering kom vertroue;
na radeloosheid kom hoop;
na vertwyfeling kom geloof;
na Vrydag kom Sondag – Jesus het opgestaan!
Wanneer ons dus die slagoffer word van pyn, lyding of ongeregtigheid kan ons onthou dat die betrokke swaarkry nooit Jesus se laaste woorde oor ons lewens sal wees nie. Hoe hartseer wanneer iemand dus die wil verloor om te lewe. Dis nie hoe dit hoort nie. Wanneer ons Jesus egter volg, gee Hy vir ons alles wat nodig is om nie net vir ewig te lewe nie, maar ook hier en nou alreeds sy lewe te beleef! My skoonpa het altyd vir my vrou gesê wanneer sy deur ‘n moeilike tyd gaan: this too shall pass. Hoe wys is sulke woorde nie! Jesus het gesê:
Ék is die opstanding en die lewe. Wie in My glo sal lewe al sterwe hy ook; en elkeen wat in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.
Hierdie wil om te lewe in die natuur preek dus as’t ware elke dag vir ons en jubel dit uit: daar is ‘n Lewegewer! Volg Hom!
Life cannot be contained. Life breaks free. Life finds a way.