top of page

Wat is gebed régtig?

deur Milanie Vosloo

Wonder jy soms wat gebed dan nou regtig is? So baie mense praat deesdae eerder van die woord: meditasie. Is gebed eintlik maar meditasie, of is dit iets anders?

Suiwer meditasie soos die oosterlinge dit doen, is die leegword van jouself. Gebed, daarenteen, is die leegword van jouself met die doel om vol te word met God. Dis om sy Gees te vra om onsself weg te neem sodat net Hý ons sal vul sodat, wanneer ons van ons knieë af opstaan, ons iets van sy grootheid, goedheid en liefde aan die wêreld sal gaan lééf.

Natuurlik is deel van hierdie proses om ons emosies, behoeftes en versoeke vir Hom te gee, vir Hom dankie te sê en Hom te loof. Maar leeg- en volword van Hom is soveel meer: Dis om in sy wonderlike teenwoordigheid te wéés: soms sonder praat ... net te wéés. Dis om verby die punt van praat te beweeg, selfs verby die punt van luister te gaan en in stilte sy vrede in te drink.

Word vir ‘n paar minute sommer net stil, haal heerlik diep asem, laat toe dat alles wat jou bekommer of pla sommer net uit jou vloei. En laat dan toe dat die Gees jou vul met sy by-jou-wees, met sy vrede ... en sy liefde.

Maak my stil genoeg sodat ek U in my kan voel, Heilige Gees.


bottom of page