top of page

Maak 2018 die jaar van intensionaliteit

  • Roedolf Botha
  • Jan 30, 2018
  • 2 min read

Duffy Robbins vertel hoedat hy en sy vrou eenkeer op vakansie was. Hulle het in die motor gery terwyl Duffy bestuur en was opsoek na ‘n bepaalde besienswaardigheid. Die probleem was egter dat hulle besig was om te verdwaal en dat Duffy (soos mans soms maak) dit nie wou erken nie. Sy vrou het so ‘n keer of wat versigtig gepoog om hom oor te haal om te stop en vra vir rigting. Die enigste reaksie wat sy egter telkens kon kry was dat Duffy net in stilte sy voet swaarder op die versneller laat lê het. Na ‘n redelike tyd van verdwaal gee Duffy toe oor, swenk met die kar van die pad af kom in ‘n stofwolk tot stilstand. Hy draai toe na sy vrou en sê:

Ag okey, ek erken ons het verdwaal, maar jy moet darem erken: ons maak goeie tyd!

Dis hoe baie mense leef. Hulle maak “goeie tyd”, dit wil sê, hulle beweeg teen die spoed van lig, maar hulle besef nie dat die pad waarop hulleself bevind uiteindelik kan lei na geestelike agteruitgang, onsensitiwiteit teenoor die mense rondom hulle asook ‘n diskonneksie in verhoudings. Spoed beteken nie noodwendig produktiwiteit nie. Besig wees beteken nie ons is effektief nie.

Die vraag is eerder of ons besig is om intensioneel te leef, gefokus op ons verhouding met Jesus, en gerig op diens aan ander. Is ons met ander woorde konsekwent besig met die dinge wat ons uitbring by die lewe wat Jesus in gedagte gehad het, of raak ons slagoffers van impulsgedrewe besluite wat gebaseer is op die gevoel van die oomblik? Laasgenoemde beteken dat ons besig gehou word met die impuls van elke afleiding of onderbreking. Ons oomblik-tot-oomblik lewensbesluite word dus nie geneem vanuit die diepste waardes waarvolgens ons eintlik wil leef nie. Nee, ons word dan eerder gemotiveer deur ander mense se agendas, of ons eie impulsiwiteit.

In verband met hierdie daaglikse lewensbesluite sê Paulus (Ef 5: 15-16):

Wees baie versigting hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd.

Om versigtig te leef beteken nie ons loop gedurig op eiers, bang om ons lewens voluit te leef nie. Inteendeel. Dit beteken bloot dat die lewe kort is, daarom kan ons nie afdraaipaaie bekostig nie. Daarom moet ons versigtig leef, mooi dink en elke geleentheid ten beste gebruik. Leef in gemeenskap met ander gelowiges en vra vir hulp en rigting wanneer jy onseker is. Leef met vergifnis en verdraagsaamheid teenoor ander. Moenie liggeraak wees wanneer mense jou tot verantwoording roep nie, maar luister regtig versigtig na wysheid.

Laastens: leef in gemeenskap met Jesus. Hy is die Een wat die voorbeeld stel. Toe Petrus Jesus probeer versoek het om ‘n afdraai te vat, weg van die sy pad na die kruis, het Hy bloot geantwoord: Gaan weg, Satan!


 
 
 

Comentários


bottom of page