top of page

Ontspan. Jy is nooit “daar” nie!

  • Milanie Vosloo
  • Sep 22, 2017
  • 1 min read

Iemand wat net op ’n menslike vlak bly dink en net glo wat mense kan verklaar, sal nie ’n woord van God se geestelike boodskap wil aanvaar nie. Dit sal nie vir hom sin maak nie en hy sal nie verstaan hoe op aarde dit moontlik kan wees nie. Die fout lê by hom en nie by die dinge wat hy nie verstaan nie. 1 Korintiërs 2:14

In die vorige dagstuk het ons gesê dat geloof nie ’n eindbestemming nie maar ’n reis is waarop ons soms heerlike lentetye beleef wanneer ons opgewonde is oor ons geloof. Hierdie geloofsblom-tydperk word meestal opgevolg met ’n somerfase waarin ons nader aan die Here groei. Maar dan ervaar ons dikwels ook herfstye wanneer ons God bevraagteken en ons geloof die kans staan om te wankel. Maar, dank Vader, help die Gees ons ook om deur ons disoriëntasie dae te beweeg tot by die punt waar ons sommer net woordeloos in ons Vader se teenwoordigheid wil wees en weer in harmonie met Hom leef.

Op ons geloofspad gaan ons baie kere wissel tussen hierdie fases. So lank ons net altyd onthou dat geloof nie oor ons kennis en verstandelike oortuigings gaan nie, maar dat dit gaan oor ons verhouding met God: ’n Verhouding waarin ons ook gemaklik met ons onsekerhede mag wees.

Om te glo beteken nie dat ons al gearriveer het nie. Dit beteken dat ons op pad is na die Een aan Wie ons vashou.

Here, ek weet dat net die Heilige Gees al hierdie dinge vir my duidelik kan maak.


 
 
 

Comments


bottom of page