Die seisoene van jou geloof
- Milanie Vosloo
- Sep 15, 2017
- 1 min read

Ek het die saad van die evangelie in julle harte geplant en Apollos het dit nat gehou, maar dit was God wat gesorg het dat daardie saad groei. 1 Korintiërs 3:6
Miskien voel jy soms so bietjie verward en selfs skuldig oor jou eie geloofspad. Of dan nou: jou ongeloof. Die waarheid is dat alle gelowiges dwarsdeur hul lewe verskillende seisoene van geloof beleef:
In die begin van ons geloofspad gaan ons deur die lentefase waarin geloof vir ons eintlik baie eenvoudig is en ons spontaan sê: “Ek is dankbaar om U te ken, Here”.
Hierna begin ons geloofsplant vertak en groei en begin ons oor baie meer dinge dink. In hierdie somer-fase uiter ons gereeld woorde soos: “Ek is jammer, Here.” “Help my asseblief.”
Maar dan gaan ons ook deur herfstye wanneer ons geloofsplant oënskynlik kwyn en dit lyk asof ons geloosblare begin afval. Dis die tye wanneer ons uitroep: “Nee, Here!”; “Waarom Here?”; “Wanneer?”
Met die leiding van die Gees bereik ons egter na herfs die winterfase. Dis die harmonietydperk waarin ons ’n dieper en nederiger geloof ontwikkel en ons maar net – soms onder antwoorde – in stilte by God wil sit en na Hom luister. Dis in hierdie laaste fase waar ons besef, soos Brian McLaren sê: die doel van geloof was nooit die eindbestemming nie. Dis die reis wat saakmaak.
Mag jy, ondanks die seisoen van jou geloof, maar net altyd weer uitroep: Hier is ek Here, help my glo.
Ja, Here, help my glo!
Comments