• deur Roedolf Botha

Goddelike wysheid in die publiek


Ek sluit aan by my vorige nuusbrief aangaande verhoudingswysheid. Wysheid geld egter ook vir gelowiges se verhouding met die publieke- of sekulêre omgewing waar binne ons leef. Mens sien dit in die openbare arena waar goedbedoelende Jesus-volgelinge aanbiddingsliedere sing in die openbaar of op sekulêre kletsgroepe teksverse slinger wat nie deur ander mense van die publiek verstaan of waardeer word nie.

Ivo Vegter is ‘n joernalis vir ‘n plaaslike blad wat homself as ‘n ateïs tipeer. Hy vertel hoe baie Christene – tydens die Knysna brande – in die openbaar onvanpaste geestelike opmerkings gemaak het op publieke kletsgroepe. Hierdie kletsgroepe is begin deur hulpverleners en is ook gebruik deur instansies soos die brandweer en nooddiensgroepe. Vegter vertel hoe Christene gedurig gebede oor en weer gestuur het, soms met prentjies wat allerlei teologiese stellings wou maak. Heel dikwels het dit die broodnodige kommunikasie tussen diensgroepe belemmer. Hy vertel verder hoedat – toe die gelowiges gevra is om asseblief hulle opmerkings te hou vir geestelike kletsgroepe – daar steeds aangehou is en dat hierdie geestelikes die vermaners op die groepe uitgejou het as ongelowiges wat onder God se oordeel staan.

Waarom doen gelowiges dit? Daar is sekerlik baie verskuilde redes maar kom ons glo die beste en aanvaar dat meeste mense dit doen omdat hulle hulle geloof vir die Here wil uitleef of wil “opstaan vir die Here”. Hulle doen dit omdat hulle sy Naam wil verkondig en lof wil besing. Hulle doen dit egter op ‘n manier wat bitter min wysheid openbaar. Sodoende word daar meer skade gedoen as goed. “Opstaan vir die Here” of “verkondiging” verg dat mens dat mens jou konteks fyn moet lees en wys moet optree. Effektiewe verkondiging sal tog anders lyk in die sekulêre publiek as waar medegelowiges alleen byeenkom.

Soms vergeet ons dat Paulus gesê het:

Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is – Kolossense 4:5.

Daar word so baie gesê: “Maar mense bedóél goed.” Goeie bedoelings alleen regverdig egter nooit onwyse optrede nie. Om ons lewens effektief te leef as gelowiges benodig ons goeie bedoelings sowél as wysheid. Sonder laasgenoemde maak ons die samelewing bloot immuun teen Jesus en weerstandig teen sy boodskap. In plaas daarvan dat ons reaksies wek van gesonde nuuskierigheid oor Jesus of geïnteresseerdheid in die Goeie Nuus, wek ons eerder gevoelens van geïrriteerdheid of selfs woede en haat heens Hom. Dan doen ons Hom geen guns nie, goeie bedoelings en al!

Ons moet wel vir Jesus “opstaan” en sy lof besing maar kan ons dit nie doen met ‘n bietjie meer selfinsig, verhoudingsintelligensie, sensitiwiteit en kreatiwiteit nie? Baie kerkmense besef nie dat jy nie met mense buite die kerk kan praat asof jy binne-in ‘n erediens of kleingroep is nie. Hulle besef nie dat hulle onnadenkende geestelike opmerkings en kerktaal nie dieselfde positiewe effek sal hê op mense buite die kerk as binne-in veilige geloofskringe nie.

Paulus stel vir ons ‘n goeie voorbeeld van wysheid op die Areopagus wanneer hy met die Grieke in Atene gesprek voer. Hier verteenwoordig hy die Here maar bevind hy homself op nie-Christelike terrein. Handelinge 17:16 sê vir ons watter gevoelens hy beleef het wat opgeloop het tot sy gesprek:

Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is.

Paulus was ontsteld, diep ontsteld, toe hy die afgodery sien. Hierdie is nie reg nie. Afgodery is afskuwelik. Hulle het Jesus nodig, moes hy seker voel. Dis egter ‘n nugter ervaring om te sien hoe Paulus sy emosies beheer en sy ontsteltenis positief aanwend teenoor sy nie-Christelike gehoor.

Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is...” – Handelinge 17:22.

Volgens Lukas volg Paulus die protokol van ‘n regte Ateense filosoof: Hy lees sy konteks en hy pas sy styl aan. Hy laat nie toe dat sy emosies met hom weghardloop nie. Hy gebruik nie sy “opstaan vir die Here” as verskoning om onwys op te tree nie. Hy behou sy redelikheid in die teenwoordigheid van mense wat radikaal anders dink as hy. Hy begin ook met ‘n kompliment teenoor die Grieke se godsdienstige lewenshouding. In plaas van om hulle direk te verdoem, openbaar hy sensitiwiteit teenoor sy gehoor.

Paulus konfronteer nie sy gehoor hier so direk soos in sommige van sy ander briewe nie. Nee, hy besef hy bevind homself hier in gesprek met mense met ‘n ander godsdiensbeskouing as hy. Hy kan nie net hier sy eie gevoelens van ontsteldheid nakend op Grieke laat neer reën nie. Hy besef hulle sal nie verstaan nie. Omdat Hy hulle egter wil wen gaan hy dus met versigtigheid en wysheid om. Sonder wysheid sou hy onnodiglik die verkeerde emosies by hulle wek en dit sou in die pad staan van hulle aanvaarding van Jesus.

Uiteindelik, en na ‘n stuk goeie beredenering en kulturele kreatiwiteit, kom hy by Jesus uit en praat Hy van Jesus se Heerskap, opstanding en die nodigheid vir bekering. Sy pad na Jesus was egter anders as toe hy met die Jode gepraat het. Paulus lees sy konteks meesterlik, pas sy strategie effektief aan en mense kom tot geloof.

Mens noem dit wysheid.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: