
Toe ek nog voltyds klas gegee het by universiteit het ek soms vir die eerstejaar teologiese studente gevra hoekom kom studeer hulle teologie. Dan het hulle graag gesê hulle wil voltyds vir die Here gaan werk. My volgende vraag het hulle meestal onkant gevang as ek wou weet watter skofte het hulle dan tot nou toe vir Hom gewerk. Hierdie einste misverstand dat slegs diegene wat betaling ontvang vir hulle werk vir die Here voltyds in sy diens staan, byt steeds hardnekkig vas. Dis ’n fout, want alle gelowiges, huisvroue en dominees, onderwysers en vakmanne, bejaardes en kinders, is voltyds in God se diens. Ons beroepe bepaal nie ons “werksure” in Sy diens nie. Almal van ons is 24 uur per dag en 7 dae per week geroep om die Here te dien. Verskillende gelowiges het verskillende verantwoordelikhede in Sy diens, maar ons almal deel een en dieselfde gemeenskaplike roeping. Ons almal is naamlik geroep om Jesus voltyds na te volg. Ons is geroep om voltyds sy Naam in ere te hou en vir Hom te leef. Ons almal is voltydse dissipels met verskillende maniere hoe ons dit uitleef. Kom ons meld dan voltyds aan en vergeet van skofte vir die Here.