top of page

Die grootste wonderwerk is nie wonderwerke nie…

Stephan Joubert

Wonderwerke is groot besigheid. TV predikers smous hiermee en party kerke ook. Toe ek onlangs weer hoor hoe iemand net wonders wil laat gebeur, wonder ek of hulle dink ons Here is ’n religieuse diensverskaffer wat net moet regstaan om vir elkeen hulle sakpas wonderwerk te gee. Ja, Jesus doen wonders, maar as ons sê ons is ernstig oor die Bybel dan moet ons lees met watter doel Hy dit doen. Matteus 12 en Lukas 11 vertel dat die doel van sy wonders is om die koninkryk van God te laat aanbreek. Dit wys hoe lyk God se nuwe wêreld. Dit vertel wie Jesus is Die Johannesevangelie verduidelik dat Jesus se wonders (of tekens, soos wat hy dit noem) ten doel het om sy heerlikheid te openbaar. Dit wys Hy is God, soos wat ons lees net nadat Jesus die water in wyn verander het te Kana in Johannes 2.

Jesus is die brood van die lewe. Hy is nie net die uitdeler van gewone brood wanneer en waar ons dit wil hê, soos wat die skare moes leer in Johannes 6 nie. Toe hulle naamlik sien hoe Hy brood vermeerder, wou hulle Jesus daar en dan koning maak. Maar Hy het geweier. Ook het Hy geweier om die volgende dag weer brood te vermeerder vir hulle. Hy wou hê die mense moes sien daar is ’n groter wonderwerk as dit, naamlik Hyself. Die grootste wonder is dat Jesus vir verlore mense kan sê: “Jou sondes is vergewe!” Vra maar vir die verlamde in Markus 2. Of vir die sondige vrou aan Jesus se voete in Lukas 7. Tereg vra Jesus vir die godsdienstiges in Markus 2: ‘Wat is makliker: om vir die verlamde te sê: “staan op en loop!” of om vir hom te sê: “jou sondes is vergewe.” Wel laasgenoemde is vir Jesus die moeilikste. Dit is waarvoor Hy gekom het. Die grootste wonder wat Jesus ooit kan doen is om sondaars te red. Jy sal dit verstaan as jy weet hoe ver Jesus moes afbuk om jou op te tel om jou Syne te maak.


bottom of page