• deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief — Mei 2017 — Deel 1


Bestuur jouself

Like so many brilliant people, he believes that ideas move mountains. But bulldozers move mountains; ideas show where bulldozers should go to work.

Die Harvard Business Review publiseer van die artikels wat hulle voel ‘n groot impak gemaak het. Hulle het twee van Peter Drucker se artikels onlangs weer gepubliseer: Managing Oneself en What makes an effective executive. Peter Drucker word algemeen as die vader van die moderne bestuurswese gesien.

Hierdie twee artikels is in werklikheid net die teenkante van dieselfde muntstuk. Eerstens: hoe moet jy jouself bestuur om meer gefokus en produktief te wees en tweedens hoe moet jy ander bestuur om onnodige afleidings en take uit te roei.

Die artikel oor selfbestuur identifiseer die vrae wat jy vir jouself moet vra om die nodige insigte te kry om beheer oor jouself oor te neem.

Ons almal moet leer om onsself te bestuur en te ontwikkel. Hoe doen ons dit?

1. Wat is my sterkpunte?

Die meeste mense dink hulle weet wat hulle sterkpunte is en hulle is meestal verkeerd. Jy kan nie jou prestasies op jou swakhede bou nie. Mense het vandag baie keuses en daarom moet hulle hul sterkpunte ken. Jy kan jou sterkpunte net ontdek deur terugvoer. As jy besluit op ‘n belangrike optrede skryf neer wat jy nege of twaalf maande later verwag en vergelyk die werklike resultate met wat jy verwag het. Terugvoerontleding is in die 14de eeu deur ‘n andersins onbekende teoloog ontwikkel. Ongeveer 150 jaar later het Johannes Calvyn en Ignatius van Loyola dit deel van hulle praktyk gemaak. Binne 30 jaar het die instellings wat hierdie mense begin het - die Calvinistiese kerk en die Jesuïeteorde – Europa oorheers.

Met hierdie metode kan jy binne twee of drie jaar vasstel wat jou sterkpunte is. Dit sal jou ook wys waar jy swak of glad nie presteer nie. Hierdie terugvoer het verskeie implikasies;

  • Konsentreer op jou sterkpunte;

  • Verbeter jou sterkpunte;

  • Leer waar jou intellektuele arrogansie onkunde veroorsaak en stel dit reg. Mense met baie kundigheid in een gebied kyk dikwels neer op kundigheid in ander gebiede;

  • Genees jou slegte gewoontes – dinge wat jy sleg of glad nie doen nie en wat jou doeltreffendheid en prestasies ondermyn.

  • Dit wys waar die probleem ‘n gebrek aan maniere is. Maniere is die smeerolie van enige organisasie. Maniere beteken om Asseblief”. en “Dankie,” te sê en die ander persoon se naam te ken. Dit laat twee mense saamwerk al hou hulle nie van mekaar nie.

  • Dit wys waar jy nie moet werk nie. Bly weg daar. Jy mors net jou tyd en energie.

2. Hoe presteer ek?

Meeste van ons weet nie eers dat verskillende mense verskillend werk en presteer nie. Hier gaan dit oor persoonlikheid. Die manier waarop iemand presteer kan effens aangepas word, maar dit sal onwaarskynlik totaal verander. Wat is van die belangrikste persoonlikheidseienskappe wat dit bepaal?

  • Is ek ‘n leser of ‘n luisteraar

Baie min mens is beide. ’n Leser wil vooraf dinge op skrif hê.

  • Hoe leer ek?

Baie top presteerders (Churchill is ‘n goeie voorbeeld) doen nie goed op skool nie Sekere mense leer nie deur te luister en te leer nie, maar deur te skryf sommige leer deur baie notas af te neem. Sommige mense leer deur doen en ander deur hulleself te hoor praat. Dit is hoe suksesvolle advokate leer.

  • Presteer ek onder druk of presteer ek het ek ‘n gestruktureerde en voorspelbare omgewing nodig om te presteer?

Die gevolgtrekking: moenie probeer om jouself te verander nie – jy gaan waarskynlik nie slaag nie.

3. Wat is my waardes?

Etiek vereis dat jy soggens vir jouself vra: Watter soort persoon wil ek graag wees – wil ek soggens in die spieël sien. Om in ‘n organisasie te werk waar die etiese sisteem onaanvaarbaar is of onverenigbaar met jou eie waardes is, lei tot frustrasie en swak prestasie. In die kerk is daar gemeentes wat net op getalle fokus, terwyl ander eerder op geestelike groei van die lidmate fokus.

Organisasies, net soos mense, het waardes. Waardes is dié toets.

4. Waar behoort ek?

As jy eers weet wat jou sterkpunte en hoe jy presteer en wat jou waardes is, kan jy besluit waar jy behoort. Suksesvolle loopbane word nie beplan nie. Hulle ontwikkel as mense gereed is vir geleenthede, want hulle ken hulle sterkpunte, hulle metode van werk en hulle waardes as jy dit weet, is jy in staat om buitengewoon te presteer.

5. Wat moet ek bydra

Die meeste mense word aangesê oor wat hulle moet bydra. Tot betreklik onlangs het mense gedoen wat hulle aangesê is om te doen. Vandag vra mense: wat wil ek doen? Wat het hulle gehoor: Doen jou eie ding. Dit is verkeerd Dit sou dan lei tot ‘n wesenlike bydrae, selfvervulling en sukses. Dit het egter baie selde gebeur. Nee, ons moet vra: wat moet my bydrae wees? Hierdie vraag se antwoord bestaan uit drie elemente:

  • Wat vereis die situasie?

  • Gegewe my sterkpunte, my manier van doen en my waardes hoe kan ek die grootste bydrae lewer?

  • Watter resultate moet bereik word om ‘n verskil te maak? Hierdie resultate moet inspanning vereis, maar moet haalbaar wees. Hulle moet betekenisvol wees – hulle moet ‘n verskil maak. Die resultate moet sigbaar en verkieslik ook meetbaar wees.

Dit is selde moontlik om vir langer as 18 maande vooruit te beplan.

6. Verantwoordelikheid vir verhoudings

Baie min mense werk alleen en behaal resultate op hulle eie. Die meeste mense werk saam met ander mense en is doeltreffend saam met ander mense. Om jouself te bestuur sluit in dat jy verantwoordelikheid vir verhoudings aanvaar.

  • Aanvaar dat ander mense net soos jy individue is. Hulle het hulle eie sterkpunte, manier van werk en waardes. Om suksesvol te wees, moet jy hierdie dinge weet. Baie min mense gee hieraan aandag: elkeen werk op sy eie manier – nie jou manier nie. Hulle is geregtig om dit te doen. Wat belangrik is, is of hulle presteer en wat hulle waardes is. Jy moet die mense met wie jy saamwerk en op wie jy vertrou ken.

  • Aanvaar verantwoordelikheid vir kommunikasie die basiese oorsaak vir konflik in ‘n organisasie is gewoonlik gebrekkige kommunikasie. Die meeste mense vandag werk saam met ander mense wat verskillende take en verantwoordelikhede het. Mense kommunikeer dikwels te min, want hulle is bang mense dink hulle is nuuskierig of dom. Organisasies word gebou op vertroue en nie mag nie. Vertroue tussen mense beteken nie noodwendig dat hulle van mekaar hou nie, maar eerder dat hulle mekaar verstaan.

7. Die tweede helfte van jou lewe

In die verlede het meeste mense hande-arbeid gedoen. Hulle het aangehou doen wat hulle nog altyd gedoen het. As jy 40 jaar op die spoorweë of fabriek oorleef het, was jy tevrede om vir die res van jou lewe niks te doen nie. Kenniswerkers vandag is nie na 40 jaar klaar nie. Mense begin toenemend met ‘n tweede loopbaan. Hoe?

  1. Beweeg van een soort organisasie na ‘n ander een. Beweeg in ‘n ander soort werk. Hierdie mense het vaardighede en hulle weet hoe om te werk. Hierdie mense het gewoonlik ‘n uitdaging nodig.

  2. Ontwikkel ‘n parallelle loopbaan. Hierdie ander loopbaan is gewoonlik in ‘n welsyns- of kerkorgnisasie.

  3. Die sosiale entrepreneurs. Hulle werk is nie meer ‘n uitdaging nie. Hulle begin ‘n ander aktiwiteit – gewoonlik iets wat nie profyt maak nie.

Hierdie mense wat die tweede deel van hulle lewens bestuur is in die minderheid. Om die tweede deel van jou lewe te bestuur vereis dat jy begin beplan lank voor jy daar kom as jy nie voor 40 jaar ‘n vrywilliger is nie, sal jy nie ‘n vrywilliger wees as jy 60 jaar oud is nie.

Wherever there is success, there has to be failure.

Die uitdagings om jouself te bestuur is duidelik. Die antwoorde lyk ooglopend – selfs naïef. Maar dit vereis nuwe dinge van die individu. Hande-arbeiders doen wat hulle gesê word om te doen; kenniswerkers moet hulleself bestuur. Dit is ‘n uitdaging vir die sosiale struktuur Elke gemeenskap aanvaar twee dinge as ‘n gegewe

  • Organisasies lewe langer as werkers

Vandag is die teenoorgestelde waar: kenniswerkers leef langer as die organisasie en hulle is mobiel. Hulle moet hulleself bestuur

Opsomming

Ons leef in ‘n tyd van geleenthede. As jy ambisie, dryfkrag en vaardighede het, kan jy die toppunt van jou beroep bereik – maak nie saak waar jy begin het nie. Maar met geleenthede kom verantwoordelikhede. Organisasies hanteer nie hulle kenniswerkers se loopbane nie. Elkeen is sy eie bestuurder

Jy moet jou plek in die werk uitkap en weet wanneer om van rigting te verander Jy moet jouself betrokke en produktief hou tydens jou jare van werk. Om dit te doen, moet jy jouself verstaan. Wat is jou waardevolste sterkpunte en jou gevaarlikste swakpunte. Hoe jy leer en werk saam met ander. In watter werkomgewing maak jy die grootste bydrae? Die implikasie: net as jy vanuit ‘n kombinasie van jou sterkpunte en selfkennis werk kan jy ware en blywende uitmuntendheid bereik.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: