• deur Roedolf Botha

Wanneer bid sonde word


Gebed is ‘n goeie ding. Dis meer as goed. Dis ‘n wonderlike gewoonte wat ons so bewus kan maak van die Here se teenwoordigheid en sy versorgende hand oor ons lewens. Dit kan ons laste verlig, ons gees vernuwe en ons laat voel dat ons skoongewas voor die Here staan. Jesus het gebid. Dit was ‘n gereelde gewoonte by Hom. Paulus het gebid. Die vroeë kerk het gebid. Lees maar Handelinge. Ons behoort ook te bid. Meeste mense bid waarskynlik geheel en al te min. Ons behoort te bid vir die nader kom van Jesus se koninkryk, vir sy Naam, vir ons land, die leiers, vir versoening, vir vergifnis, vir mekaar, vir ons vyande en vir ons daaglikse brood.

Daarom is dit so bemoedigend dat honderde duisende mense ‘n week of wat gelede in Bloemfontein bymekaargekom het om hulleself te verootmoedig voor die Here. Die foto’s van mense wat hande vat en kniel was aandoenlik en roerend. Ek vertrou ook dat die goeie vrug van daardie dag saam met oom Angus nog lank sigbaar sal wees.

Gebed beteken egter nie noodwendig ‘n gesonde verhouding met die Here nie. In Lukas 18 lees ons dat die tollenaar en die Fariseër langs mekaar gestaan en bid het. Albei het gebid. Trouens, dit lyk asof die Fariseër heel moontlik meer gebid het as die tollenaar. Tog was sy hart die vêrste van die Here af. Albei bid gereeld maar nie albei is reg met die Here nie.

Daar is dus iets wat my pla oor sommige bidders en iets wat my soms aan die Fariseërs laat dink, insluitende sommige mense wat in Bloemfontein was. ‘n Man en vrou sit nou die dag aan ‘n tafel na-aan ons in ‘n koffiewinkel. Ek begin egter op ‘n stadium bewus raak daarvan dat hierdie twee mense hulle kelnerin met skokkende minagting behandel. Sy maak per ongeluk ‘n foutjie en hulle laat haar soos gemors voel. Dit was egter nie al nie. Groot was my skok dat, toe die kos kom, die man en vrou hande vat en bid!

Verder het sommige Bloemfontein-gangers (nie almal nie) my met groot entoesiasme vertel dat hulle gaan om die geweld, rassisme en haat in die land reg te bid, en dit terwyl ek al gesien het hoe rassisties hierdie mense optree teenoor anderskleuriges. Sommige hanteer hulle huishulpe of plaaswerkers met blatante minagting, en nou verwag hulle God namens hulle moet spring wanneer hulle ‘n gebedjie opsê!

Jesus het natuurlik iets hieroor te sê gehad. In Matteus 5:23-24 sê Hy:

As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

Dis nogal ‘n radikale stelling van Jesus hierdie. Hierdie persoon kom heel moontlik met die opregtheid van tipiese Joodse toewyding met die bedoeling om homself met God te versoen. Hy kom met ‘n offer na die altaar. Die altaar was die Ou Testamentiese voorloper van die kruis van Jesus. In ‘n Nuwe Testamentiese konteks sou ons dus kon sê hy nader tot die kruis om dinge tussen hom en God reg te maak.

Die radikaliteit van Jesus se stelling is in die feit dat Jesus eintlik in der waarheid die persoon maan om sy gebed te staak! Gaan maak eers reg jou verhoudings! Hanteer jou medemens met die nodige respek en liefde in ‘n gees van versoening, dan probeer ons weer.

Dit gaan natuurlik nie hier streng-gesproke oor die volgorde van handelinge nie, maar toegepas op ons land te situasie het dit nogal interessante implikasies:

Ons moenie dink ons kan tot God nader om die land reg te ruk indien ons nie bereid is om die tipe van lewe te leef wat liefde, versoening en vrede bewerk nie. Daardie man en vrou wat gebid het voor hulle maaltyd kon dit maar netso wel los. Dit het vir God niks beteken nie. Die boodskap van die Nuwe Testament is nie dat mens ongeregtigheid reg bid nie. Jy lééf dit reg terwýl jy bid! Jy hanteer mense met die oortreffende en buitensporige genade van Jesus. Jy vergewe hulle hulle tekortkominge. Jy verwelkom hulle Godgegewe andersheid. Jy tree op met die geduld en deernis wat dit neem om in hierdie land met mense van ander kulture oor die weg te kom. Jy bou brûe met jou gedrag, nie mure nie.

En ja, jy doen dit biddend.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: