• deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief — April 2017 — Deel 2


Ek wil my gemeente terughê

Die gemeente gaan agteruit. Lidmate besef dat dinge sal moet verander of die gemeente sal net verder agteruitgaan. Maar verandering is moeilik. Hierdie lidmate wil hulle ou gemeente terughê. Die gemeente van die verlede sal nooit weer terugkeer nie. Die spoed van verandering is vinnig en dit sal net vinniger word. Hoe reageer ons op hierdie lidmate wat seerkry – soms selfs kwaad is.

1. Reageer pastoraal

Hierdie mense treur. Sommige glo hulle kan op een of ander manier terugkeer na die gemeente van 30, 40 en 50 jaar gelede. As hulle uiteindelik besef dat dit nie moontlik is nie, vererger hulle hartseer. Hulle het ons liefde, bemoediging, ondersteuning en gebede nodig. As ons kwaad met kwaad vergeld, gaan ons ‘n moeilike situasie net vererger.

2. Reageer met die werklikheid

Moenie vir hierdie mense vals hoop gee nie – dit sal net die situasie vererger. Vertel vir hulle met liefde dat verandering onvermydelik is – die kerk moet of proaktief op verandering reageer of dit moet die slagoffer van verandering wees.

3. Reageer met dit wat nie onderhandelbaar is nie

Verseker hierdie lidmate dat daar sekere fasette van die gemeentelewe is wat nooit sal verander nie. Die Bybel is steeds die woord van God; die evangelie is steeds kragtig. Christus is steeds die enigste weg na verlossing. Deur na hierdie ononderhandelbare feite te verwys, trek jy hulle aandag van minder belangrike dinge af en fokus hulle aandag op dit wat werklik saak maak.

4. Reageer met ‘n fokus na buite

Soms is lidmate se verlange na die verlede ‘n aanduiding dat hulle na binne fokus. Hulle sien die gemeente as die plek waar al hulle behoeftes en begeertes hanteer word. Indien moontlik, kry hulle betrokke by bedienings wat hulle fokus van hulle eie begeertes en behoeftes wegtrek na ‘n wêreld wat ons hoop, ons liefde en ons bediening nodig het.

5. Reageer met ‘n besluit

‘n Paar lidmate sal vir die verlede veg, maak nie saak hoe toksies dit vir die gemeente en sy toekoms is nie. Leiers moet besluit om aan te gaan. Hulle kan nie al hulle tyd spandeer aan die ontevrede lidmate nie, want dan verwaarloos hulle diegene wat bereid is om te verander. Hierdie is die laaste stap – die finale alternatief. Dit is pynlik, maar noodsaaklik vir die gesondheid van die gemeente as ‘n geheel.

Ons leef in ‘n tyd van vinnige verandering. Gemeentes is nie immuun teen die impak van verandering nie. Ons moet altyd mense liefhê, maar ons kan nie toelaat dat ‘n paar lidmate die werk waartoe God ons geroep het, verhinder nie.

Dankbaarheid is goed vir jou

Dankbaarheid laat verhoudings floreer en maak vertroue moontlik. Dankbaarheid bemoedig, motiveer, verenig en sluit mense in. As ons dankbaarheid betoon voel mense dat hulle waardeer word, hulle weet wat belangrik is en hulle voel dat hulle deel is van iets groter as hulleself. Maar dankbaarheid is ook vir jou goed. Dankbaarheid beteken ons gesindheid om te lei, is reg. Dankbaarheid en nederigheid is verbind aan mekaar. Hulle versterk mekaar. Dankbaarheid sê: “Ek het dit nie alleen gedoen nie.”

The egoist is ungrateful because he doesn’t like to acknowledge his debt to others and gratitude is this acknowledgement (Andre Comte-Sponville die Franse filosoof).

‘n Gebrek aan dankbaarheid is die kern van narsisme. Ons is nie alleen verantwoordelik vir wie ons is of wat ons doen nie. Dit is die kern van leierskap: ons is nooit volledig selfvoorsienend nie.

Michael McKinney noem ‘n paar gevolge van dankbaarheid vir jouself.

1. Dankbaarheid gee vir jou lewe veiligheidsgrense

Dankbaarheid help ons om onsself te beskerm. Dankbaarheid speel ‘n belangrike rol om swak gedrag en verkeerde denke te vermy. Dankbaarheid stel ‘n grens vir ons denke deurdat ons ander in ag neem. Dit help ons om nie te doen wat ons nie behoort te doen nie, want ons is meer selfbewus.

2. Dankbaarheid vereis dat ons stadiger moet beweeg en nadink

Dankbaarheid is die basis vir emosionele intelligensie. Dit plaas ander mense eerste. Dit sê dat jy weet en dat jy omgee. Deernis is noodsaaklik vir leierskap, maar deernis is nie deernis as dit stil is nie. Deernis moet uitgedruk word.

3. Deernis onderdruk onproduktiewe emosies

Hier dink ons aan emosies soos frustrasie, wraak en haatdraendheid. Dit is selfs ‘n teenmiddel vir depressie. Dit het die krag om te genees en ons vorentoe te laat beweeg.

4. Dit verbeter verhoudings

Hoekom? Want dit is ‘n teenmiddel vir jaloesie en gierigheid. Ons is nie meer in kompetisie met ander nie, maar is dankbaar vir hulle bydrae. Dit verseker dat die leier nie aanspraak maak op sy regte nie. Dankbare mense kry meer vreugde uit die lewe en het meer bande met ander mense.

In hierdie moeilike en veranderende tye is dankbaarheid ‘n leier se bondgenoot. Dankbaarheid fokus nie op die onmiddellike nie, maar fokus op die langtermyn. Die lewe is ‘n kontinuum. Dankbaarheid stel ‘n leier in staat om te waardeer waar hy tans is en die hulpbronne wat hy tot sy beskikking het. ‘n Gesindheid van dankbaarheid gee aan ons perspektief. Dit maak ons nie blind vir dit wat negatief is nie, maar fasiliteer ‘n oplossing.

Dankbaarheid is nie net iets wat ons doen nie, maar iets wat ons as leiers is. Dit moet uit die hart kom. Dit moet die denkwyse wees waarmee ons lei, bestuur en besluite neem. Dankbaarheid is gegrond op die werklikheid, want ons moet besef dat alles wat goed is in ons lewe ‘n geskenk is. Leierskap begin en eindig met dankbaarheid.

Ek wil mense tevrede stel

As volgelinge van Christus fokus ons op ander. Dit kan goed of sleg wees afhangend van jou motivering. Klink dit nou of ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie (Galasiërs 1:10).

As ek ander eerste plaas uit ‘n God-gesentreerde motief is dit ‘n uitvloeisel van die liefde wat ons van God ontvang het. Dit stel ons in staat om ander op ‘n gesonde manier lief te hê. As ek ander egter eerste plaas om mense se guns te wen, is dit ‘n uitvloeisel van onsekerheid. Dit word gewoonlik deur ‘n vrees vir verwerping of ‘n swak selfbeeld of ‘n gevoel van onwaardigheid gemotiveer.

If you live for people’s acceptance, you will die from their rejection – Lecrae

Is jy ‘n leier wat ander mense se guns probeer wen? Hier is drie manier om ander op ‘n gesonde wyse te lei.

1. Neem besluite

Een van die grootste uitdagings waarvoor ‘n leier wat mense se guns probeer wen, te staan kom, is ‘n besluit wat nie eenparig is nie. Elke groep moet besluite neem. As jy die leier is, moet jy die groep in hierdie proses lei. As mense nie eenparig kan besluit nie, is so ‘n leier in ‘n dilemma – hoe kan jy vorentoe beweeg sonder om iemand teleur te stel? Daar is ‘n paar moontlikhede:

  • Vertrou op God se leierskap. Bedaar en erken dat Ek God is (Psalm 46:11). ‘n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop (Spreuke 16:9). Die groep moet die besluit neem, maar die werklike stappe en groei is meer van God as van ons planne afhanklik.

  • Moenie deur arbitrêre beperkings vasgevang word nie. Is dit werklik nodig dat die besluit nou geneem moet word. As spanning toeneem dink ons binne die boks. Bevry jouself van die beperkings en laat jou toe om kreatief oor ‘n oplossing te dink.

  • Gebruik “die voorlopige besluit.” Noem dit ‘n eksperiment en moedig almal aan om die voor- en nadele te bestudeer totdat daar sekerheid is.

2. Verskil met grasie

Daar sal altyd meningsverskille in spanne wees. Die bespreking laat elkeen toe om te sê wat hulle dink en hoe hulle voel. Wat moet jy doen as die verskille sterk is? As jy ‘n leier is wat mense se guns soek, sal jy die insident so gou as moontlik agter jou wil kry – jy verander die onderwerp. Die probleem is dat die span aanvaar dat jy konflik goedkeur en dit kan binnekort weer gebeur. 2 Timoteus 1:7: Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Ons moet konflik met die Gees van God hanteer. Ons moet die waarheid in die konteks van God se liefde praat. As daar meningsverskil is, moet ons die waarheid praat ... in liefde. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe (Efesiërs 4:15). Ons word uitgenooi om God se ambassadeurs vir mekaar te wees.

3. Bemagtig ander om te lei

Bemagtig ander om hulle eie wysheid en gawes na die span te bring. Moenie alles in jou eie krag probeer doen nie. Omdat ons onseker is, wil ons graag vir mense wys ons kan alles self doen. Gedeeltes soos 1 Korintiërs 12 en Romeine 12 herinner ons daaraan dat ons almal deel van een liggaam is. Almal van ons moet belangrike maar verskillende take doen. So trek almal voordeel.

As jy ‘n leier is wat die guns van mense wil wen, moet jy nie vrees nie – jy is nie alleen nie. Met doelgerigtheid en ondersteuning kan jy jou begeerte om te dien kanaliseer in ‘n gesonde en kragtige instrument in God se koninkryk.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: