
Medegelowiges is somtyds ontsteld wanneer hulle hoor dat ek die evangelie vergelyk met feëverhale of sprokies. Daar is egter myns insiens goeie rede daarvoor. Daar is byvoorbeeld interessante en pertinente ooreenkomste tussen feëverhale en die evangelie van Jesus wat eintlik ons oë kan oopmaak vir die wonder van die Jesus-verhaal. Dink bietjie daaroor. Feëverhale bevat gewoonlik elemente soos ‘n held wat die hoofrol speel, asook ‘n kwaadwillige teenstander wat poog om die wêreld vir homself in te palm, gewoonlik ten koste van niksvermoedende of onskuldige slagoffers. Die storie ontwikkel gewoonlik tot by die punt van ‘n dreigende katastrofe wat veroorsaak sou word deur die euwel planne van hierdie teenstander. Dink maar aan Simba in The Lion King en die verbitterde en sluwe Scar wat die koningskap van die diereryk vir homself wil kaap. Hy doen dit dan ook met katastrofiese nagevolge vir die res van die wêreld: sy korrupte koningskap lei tot byna totale vernietiging van die ekologiese omgewing asook die onderlinge verhoudings tussen die diere.
Maar dan vervat feëverhale gewoonlik nog ‘n belangrike element die storie waarsonder die verhaal kwalik as ‘n sprokie gesien sou kon word. Tolkien (van Lord of the Rings-faam) het dit genoem ‘n “eukatastrofe”. ‘n Eukatastrofe is die omgekeerde van ‘n katastrofe. Dis met ander woorde ‘n “goeie katastrofe”. Dit is ‘n uitnemend positiewe gebeurtenis waardeur die wêreld gered-, in plaas van vernietig word. Hierdie eukatastrrofe vind dikwels plaas as gevolg van die opofferende daad wat gemaak word deur die hoofkarakter, waardeur hy die euwel magte konfronteer en oorwin. In Lion King is dit Simba wat sy pynlike verlede die hoof moet bied, verantwoordelikheid moet neem vir die welweë van die samelewing, en vir ‘n magtige Scar moet gaan konfronteer. Hierdie optrede deur die held bring dan uiteindelik na ‘n pynlike stryd, redding en verligting vir almal.
Die opstanding van Jesus was volgens Tolkien die eukatastrofe van die Jesus-verhaal asook vir die ganse menslike geskiedenis. Deur die opstanding het die “magic” idee van sprokies die geskiedenis en die werklikheid binnegekom. Die Satan en sonde het die wêreld en ganse mensdom die bedreig. Jesus maak dan ‘n opoffering van kosmiese omvang alhoewel dit op Goeie Vrydag steeds lyk asof die dood die oorwinning behaal het oor Hom. Sy opstanding drie dae later het egter onverwags alles verander. Die katastrofe word omgeskakel in ‘n eukatastrofe. In ‘n verrassende wending wen die lewe die dood. Pyn en dood word ingesluk en omgeskakel in onverwagte oorwinning en lewe. As gevolg van Jesus se selflose opoffering aan die kruis, en sy opstanding, red Hy die wêreld van gewisse geestelike en fisiese dood.
Hierdie eukatastrofe van Jesus se opstanding maak van die evangelie ‘n ware sprokie. In sprokies of feëverhale eindig alles altyd goed. Enige iets kan gebeur al lyk die omstandighede ook hoe bedroef. Die goeie kant van die lewe wen en alles eindig altyd op ‘n hoogtepunt. In Engels sê ons: “They lived happily ever after”. Dit is wat Jesus se opstanding vir ons verseker wanneer ons glo: Die geskiedenis is iewers heen oppad en dit gaan goed eindig al lyk dit ook nou hoe vrot en mistroostig. Dis wat Jesus waarborg.
Dis die boodskap van Paasnaweek: “We will all live happily ever after.”