
Nêrens in die Bybel staan geskryf dat Christene geen probleme of swaarkry op aarde sal beleef nie maar wel dat niks hulle ooit van die liefde van God kan skei nie (Rom. 8:38). Net voor Sy gevangeneming in Getsemane het Jesus aan Sy dissipels gesê dat hulle dit in die wêreld moeilik sal hê maar dat hulle moet moed hou want Hy het die wêreld klaar oorwin (Joh. 16:33).
Paulus bemoedig sy gemeentelede egter met “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby” (2 Kor. 4:17) al was hy blootgestel aan erge marteling deur die owerhede en langdurige kritiek op sy bediening deur gemeentelede. Ook beklemtoon Paulus dat God ons die voorreg gegee het om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly (Fil. 1:29).
Na sy opstanding het Jesus sy apostels op die strand ontmoet en vir Petrus gesê: “En iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie”. Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik (Joh. 21:18-19). Volgens oorlewering is Petrus onderstebo gekruisig en sou hy aan sy tormentors gesê het dat hy onwaardig voel om op dieselfde wyse as sy Heiland te sterf. Met die uitsondering van Johannes, het al die apostels almal ‘n pynlike marteldood gesterf – ‘n dood waarmee hulle Christus verheerlik het.
Almal van ons kan verwag dat swaarkry of teenspoed ons een of ander tyd sal tref. Dit mag ‘n siekte of besering wees, of afsterwe van ‘n dierbare, of finansiële teenspoed, of wat ookal, maar ons moet nie probeer om die teenspoed op ons eie krag te hanteer nie. “Dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee” (2 Tim 1:8). Eintlik moet ons vir God dankie sê as ons swaarkry, wanneer allerlei beproewings oor ons pad kom, want soos, Jakobus sê in Jak. 1:2, “as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard”.
Stephan Joubert wys in DIT KOS NIKS OM TE BLY GLO, Lux Verbi 2015, p.61 daarop dat God nie afwesig is wanneer mense swaarkry nie, want God se genade is tot in die donkerste uur tot ons beskikking en bly Hy altyd aan ons sy. Ons moet op God bly vertrou, ongeag van die swaarkry in ons lewe, en bid dat Sy wil in ons lewe sal geskied en dat ons altyd veilig in Sy hand sal wees. Sien ‘n ramp wat jou tref nie as ‘n hindernis of probleem nie, maar as ‘n geleentheid om nader aan God te kom, om Hom daarmee te kan verheerlik.