• deur Roedolf Botha

Nie deur mag of krag nie


Ten spyte van die feit dat die Godsdiens-in-die-skole ding so ietwat gaan lê het hoor ek steeds baie gelowiges sê dat ons tog net nie “ons mag in die skole moet verloor nie”. “Ons moet godsdiens tog net in die skole behou”, so word daar gepraat. Verstaan my mooi: ek is ten gunste van die vrye verkondiging van Jesus in skole. Hier is egter wat my wel pla: Dis asof Jesus-volgelinge geheel en al te veel steun op institusies en organisasies om geestelike waardes in die samelewing asook in ons kinders se lewens te wil vestig. Opsig self is daar weereens niks mee verkeerd nie maar dis asof ons al ons geestelike impak wil “outsource” na skole, organisasies en kerke. Ons blyk nie tevrede te wees voordat ons nie ons Christelike invloed geïnstitusionaliseer het nie.

Hier is die probleem met institusies as die primêre beïnvloeders van ‘n samelewing: institusies gebruik hulle institusionele mag om te beïnvloed. En mag werk nooit so goed soos persoonlike karakter nie. Ons vergeet dat Maximus in Gladiator sy transformerende invloed eers kon uitoefen toe hy ‘n slaaf geword het. Ons vergeet dat William Walace in Braveheart veel meer verrig het toe hy sy mag weggegee het as ‘n martelaar. Mense het egter beide hierdie helde gevolg omdat hulle selflose en opofferende karakter openbaar het. So vergeet ons ook soms dat Jesus die wêreld verander het deur sy mag op te gee aan die kruis. Hy het ons kom leer dat ons op ons beste is wanneer ons swak is. Ons vergeet verder ook dat Jesus-volgelinge in die eerste paar eeue geen institusionele mag gehad het nie. Tog het hulle ‘n samelewing só getransformeer dat twee- en veertig miljoen van die sewe- en sewentig miljoen mense van die antieke tyd Christene was teen 300 nC! Dit is bykans twee derdes van die ganse destydse wêreld!

Hoe het hulle dit gedoen? Nie deur mag te gebruik nie maar deur die inhoud van hulle karakter, so verduidelik Rodney Stark in sy sosiologiese studie The Rise of Christianity. Hulle het karakter gehad sonder enige institusionele mag. Die enigste invloed wat hulle dus kon uitoefen was die karakter wat Jesus bewerk het in hulle alledaagse lewens. Stark beweer onder andere dat die Christene van die eerste paar eeue radikaal anders geleef het as die ander mense in hulle wêreld, dat hulle nie rassisties of seksisties was nie, dat hulle ‘n bewonderenswaardige werksetiek gehad het en dat hulle die minstens in die samelewing (armes, siekes en buitestaanders) versorg het.

Ek wonder of ons nie vandag met ‘n omgekeerde situasie sit nie: te veel mag (terwyl ons nog kla ook!) en te min karakter? Te midde van soveel kerke in ons land vier armoede, rassehaat en korrupsie steeds hoogty. Waar is die ‘’sout-van-die-aarde” invloed wat ons veronderstel is om uit te oefen? Is dit nie gedeeltelik omdat ons ons Jesus-karakter verloor het dat ons nou ons geestelike invloed wil “outsource” na skole en ander institusies nie?

Dalk ‘n paar relevante vrae:

  • Is ons identiteit uitsluitlik op Jesus gebou of op ons etnisiteit, status of Afrikanerskap?

  • Is ons karakter onberispelik in die werksplek en by die huis waar ons leef saam met ons geliefdes?

  • Is ons reaksies op lewensituasies uitermate volwasse of reageer ons met liggeraaktheid?

  • Beskik ons oor waagmoedige geloof wat intensioneel risiko’s neem om brûe te bou tussen onsself en ander mensegroepe in Suid-Afrika?

  • Beskik ons oor ‘n liefde, vrygewigheid en vergifnis wat getuig van die oordadigheid van Jesus se liefde aan die kruis?

  • Is ons passievol in ons gebede veral vir ons vyande en mense wat ons kwaad maak?

  • Beskik die geestelike gemeenskappe waaraan ons behoort oor hartlike warmte en radikale gasvryheid, veral teenoor buitestaanders?

  • Is ons stem in die gemeenskap profeties en ons taal opbouend, of kerm ons maar net saam met al die ander?

  • Is ons vertroue in Jesus onverskrokke en allesbepalend?

Mag ons dus in magtelose oomblikke, wanneer ons verontreg voel, nie te lig bevind word in ons karakter nie. Mag ons lewens leef wat reg laat geskied aan die duur offer wat Jesus betaal het.


© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: