
Mary A. Kassian en Nancy Demoss Wolgemuth. Vreugdevol vrou: Ontsluit jou ware skoonheid en vind vervulling as die spesiale vrou wat God jou geskep het om te wees. CUM. 2016
Die Ontdek & Beleef-Bybelstudieboeke wat CUM publiseer, bied uitstekende waarde vir geld en kan wyd aangewend word. Dit is ideaal vir Bybelstudiegroepe sowel as individue en kan ook gebruik word in voorbereiding vir boodskappe. Dié een stel nie teleur nie maar leef op aan die hoë standaarde wat reeds vir die reeks aangelê is.
Die studie is gerig aan die adres van vroue en is geskryf deur twee vroue waarvan die een ‘n teoloog en die ander ‘n bekende konferensiespreker is, ‘n formidabele kombinasie. Die studies strek oor agt weke en bevat vyf studies vir elke week. ‘n Mens sou gemaklik die boek oor ‘n kwartaal vir ‘n Bybelstudiegroep kon gebruik; lede doen dan elke weeksdag ‘n studie en die groepleier vat die week saam. Alternatiewelik sou ‘n mens die studie baie langer kon doen sodat daar 40 studies is wat in die loop van ‘n jaar op ‘n weeklikse basis voltooi sou kon word.
Die eerste studie verduidelik dat geslag saak maak in terme van ‘n mens se verhouding met God en sy doel met die skepping van die vrou. Die tweede en derde studie handel oor die doel van die skepping van die mens, dat ons as beeld van die verhouding van Christus met die kerk leef, en as ons dit verstaan, modelleer ons ons huwelik op daardie verhouding – dit maak alle verskil! Die vierde week handel oor die slang in die tuin en versoeking, en watter skade dit aanrig as ons nie ons hieraan steur nie. Die vyfde studie handel oor die geveg tussen die geslagte, wat die gevolg van sonde is. Die sesde week behandel die model van vrouwees wat in ons samelewing radikaal verskil van wat God bedoel het vir vrouwees, en hoe belangrik dit is dat jy doelbewus sal kies om dinge op God se manier te doen. Die sewende en agste week vertel hoe jy deel van God se teenrevolusie kan word deur Hom toe te laat om jou radikaal nuut te maak sodat jy doelgerig volgens God se ontwerp leef.
Elke studie beslaan twee bladsye, met ‘n Skriflesing, bespreking, enkele vrae en toepassing.
Die boek is mooi versorg en enige vrou sal opgewonde wees om so een as ‘n geskenk te kry of daarin te werk. Die grafiese ontwerp is puik en die groter format help om dit as joernaal byderhand te hou van jou Bybelstudie.
Stel jy belang in Vrouwees101? Hier het jy ‘n ideale gids!