
“Criticizing others is not just an offensive move against them; it is also a defensive move to protect our own “purity.” When we are judgmental, therefore, we need other people’s faults in order to dodge our own. Stated simply, judgmental thinking is addicted to other people’s faults or destructive behavior.” Terry Cooper
Veroordeling is gewoonlik 'n baie emosionele ding en kom in alle vorms en groottes. Diegene wat 'n sekere dieet volg is dikwels veroordelend teenoor diegene wat eet wat hulle wil. Diegene wat vroeg opstaan kritiseer dié wat laat slaap, die persoon wat A’s kry sien neer op dié met Cs. Dié wat netjies is veroordeel dié wat slordig is, dié wat nie tattoeermerke het nie sien neer op dié wat het.
Ons plaas ‘n hoër waarde op die dinge wat ons goed doen. Dit is gewoonlik die dinge wat ons maklik kan doen en wat natuurlik vir ons kom. En dit is die dinge waarvoor ons ander veroordeel - dit waarmee hulle nie goed is nie. Ons kyk verby ons eie foute, maak dit af as onbelangrik en minder ernstig. Ons maak ons eie maatstawwe die norm wat aanvaarbaar en skaflik is en meet ander daarvolgens. Ons is dalk nie eers bewus daarvan nie, maar deur ander af te kraak probeer ons onsself in ‘n beter lig stel. Dit is asof ons manier van dink en ons gewoontetjies alleen bestaansreg het, maar dit kom eintlik vanuit ‘n gesindheid van hoogmoed en snobisme, wat dikwels ons minderwaardigheidsgevoel verbloem.
Al veroordeel ons mense net in ons gedagtes bly dit steeds ‘n teken van emosionele en geestelike onvolwassenheid. Al sê ek nie ‘n woord nie, tel die ander persoon tog iets van my gesindheid op. In die proses kry mense seer en word verhoudings vertroebel.
In skerp teenstelling hiermee is die lewe waar Christus die middelpunt is. So ‘n lewe lyk radikaal anders – hierdie persoon is maklik om mee oor die weg te kom, inskiklik en vriendelik, geduldig, goedhartig en liefdevol. Wanneer ek my dag begin deur stil te word met persoonlike Bybelstudie en gebed, gee ek vir Christus geleentheid om my te herinner aan die genade wat ek onverdiend ontvang het – dat alles wat ek het, ek van Hom ontvang het. Dat ek niks uit my eie verdien nie en dat ek my veroordelende ingesteldheid kan bely. Dit is daar waar ek weer opnuut besef dat genade sagmoedig, nederig, vol begrip en ontferming is en dat die Gees van Christus my in staat stel om genade te betoon aan die mense wat anders as ek is.
Erkenning aan; M Patton “Overcoming Judgmentalism”